Suid-Afrika moet sy ekonomie in die rigting van volhoubare arbeidsryke groei laat beweeg

Prof Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool sê dat Suid-Afrika dringend moet die ekonomiese “herstel” hierdie jaar moet benut om in die tydperk wat voorlê sy ekonomie in die rigting van meer volhoubare arbeidsryke groei te laat beweeg.

“Die algemeen verwagte amptelike bevestiging van StatsSA dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 ’n BBP-groeikoers van -7% ervaar het, stem ooreen met die meeste ander onlangse gesaghebbende evaluerings van die ekonomiese skade wat die land verlede jaar onder die drastiese pandemie-inperking gely het.”

Prof Parsons sê dat die negatiewe groeisyfer vir 2020 as geheel weer eens demonstreer hoeveel ekonomiese veld verlede jaar verloor is ten opsigte van talle besighede wat misluk het, groot werksverliese wat voorgekom het en ’n beduidende afname in besteebare inkomste.

“Gelukkig is die ekonomiese nuus in 2021 nou beter. Hoëfrekwensiedata toon dat ’n sterk herstel hierdie jaar op aan die gang is, wat saamval met Suid-Afrika se strategie om die staat van inperking tans na vlak 1 te verlaag.”

Hy sê op die gesondheidsfront is daar die groter vooruitsig dat entstowwe toenemend deur middel van inentings as “wapens” teen Covid-19 gebruik gaan word namate die res van die jaar vorder. “Baie gaan natuurlik van die tempo en die omvang van die inentingsbenutting afhang.”

Volgens prof Parsons voorspel die positiewe wêreldwye asook die plaaslike ekonomiese tendense dus ’n oorkoepelende “herstel” van die Suid-Afrikaanse ekonomie hierdie jaar, ofskoon dit vanaf ’n baie lae basis sal wees.

“Volgens huidige bewyse kan hierdie ‘herstel’ neerkom op ongeveer 3% groei in 2021 as geheel, wat na die meeste sakesektore sal deurdring namate die herstel vorder.

“Ons moet egter erken dat daar nog ’n lang pad vorentoe is om die nasionale uitset en indiensneming tot hulle voorpandemievlakke te herstel. Daar is steeds nog talle onsekerhede.”

Prof Parsons sê dat dit die verbeterde korttermyn- ekonomiese vooruitsig is waarop Suid-Afrika nou sigbaar moet bou om in die tyd wat voorlê sy ekonomie in meer volhoubare arbeidsryke groei te laat inbeweeg.

Submitted on Tue, 03/09/2021 - 17:47