“Ons moenie die uiteindelike gevolge onderskat wat dalk in die lig van die huidige skielike breuk in die bilaterale politieke en diplomatieke betrekkinge tussen die Verenigde State (VSA) en Suid-Afrika vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en besighede voorlê nie.”
In sy kommentaar oor die jongste spanning in die politieke en ekonomiese betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat waninligting oor die situasie in Suid-Afrika en negatiewe uitsprake van die VSA oor die land se beleid ’n kommerwekkende styging in ekonomiese onsekerheid aan die gang gesit het, wat nie net vir besigheid nie, maar ook vir die land oor die algemeen sleg is.
“Benewens die toenemende bekommernisse oor die toekoms van die African Growth and Opportunity Act (AGOA) en die ekonomiese betekenis daarvan vir Suid-Afrika, kan ’n ernstige breuk in die ekonomiese betrekkinge met ’n vername handelsvennoot soos die VSA ander bykomende gevolge vir Suid-Afrika inhou – veral vir sy strewe na hoër beleggings en arbeidsryke groei.”
Prof Parsons wys daarop dat, soos president Cyril Ramaphosa in sy jongste staatsrede van verlede week gesê het, die topprioriteit vir Suid-Afrika hoër inklusiewe groei en werkskepping is. Dit is nou die oorkoepelende doelwit van die Mediumtermyn-Ontwikkelingsplan van die RNE. As ’n klein oop ekonomie wat tans op die medium termyn na ’n baie hoër groeikoers as 3% in die bruto binnelandse produk (BBP) streef, moet Suid-Afrika sy kaarte dus goed en slim speel.
“Om die moontlike impak van eksterne skokke te verlaag, moet Suid-Afrika dringend op die jongste dreigemente van die Trump-administrasie reageer en die ekonomie so ‘Trump-bestand’ as moontlik maak.”
Volgens prof Parsons is dit dus nodig om die waninligting oor Suid-Afrika op verskeie vlakke die hoof te bied.
Benewens die verskillende politieke en diplomatieke inisiatiewe wat nou aan die gang is, het die sakesektor ’n deurslaggewende rol om in die eskalerende sage te speel.
Maatskappye in die VSA asook in Suid-Afrika wat geraak word, moet in die lig van hierdie uitdagende ontwikkelings die omvang van hulle invloed vergroot.
“Kamers van koophandel in Suid-Afrika en die VSA is reeds met intervensies besig. In die tydperk wat voorlê moet besigheidsfirmas wat geraak word egter ook positiewe stappe doen om Suid-Afrika se gevestigde ekonomiese betrokkenheid by die VSA te versterk.”
Prof Parsons sê maatskappye het verskaffers en kliënte wat hulle vir ondersteuning kan mobiliseer. Besighede moet kundige en gekoördineerde boodskappe aanwend wat voortgaan om Suid-Afrika se nasionale ekonomiese en strategiese belange te bevorder.
Besighede moet inderdaad meer as ooit tevore saamstaan om hulle saak aan die Trump-administrasie en ander belanghebbers voor te lê. Intervensie deur besighede moet egter op ’n kalm en gefokusde wyse uitgevoer word en beter maniere – wat deur feite ondersteun word – voorstel om die ekonomiese betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika op die kort en langer termyn te bewaar.”