Suid-Afrika moet die laegroeivalstrik oorwin om uitdagings suksesvol aan te pak

Die negatiewe groeisyfer van die bruto binnelandse produk (BBP) van -0,1% kwartaal tot kwartaal weerspieël weer eens hoe moeilik dit vir die ekonomie was om in die onlangse verlede momentum te verkry.

In sy kommentaar op die BBP-syfers wat Statistieke SA op 4 Junie vrygestel het, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, hoewel BBP-groei nog moontlik ’n matige 0,9% in 2024 as geheel kan bereik, die totale BBP in die eerste kwartaal van 2024 laer is as die hoogtepunt wat in die derde kwartaal van 2022 bereik is.

Hy verduidelik dat Suid-Afrika se voortgesette teleurstellende groeiprestasie die beduidendste eienskap van Suid-Afrika se makro-ekonomiese prestasie bly. “Die hardnekkige afname in per capita-inkomste oor verskeie jare beteken dat die nasie as geheel armer geword het. Suid-Afrika moet uit sy laegroeivalstrik breek om die driedubbele uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid suksesvol die hoof te bied.”

Volgens prof Parsons is dit ook kommerwekkend dat die bruto vastekapitaalvorming (BVKV), ’n groot dryfveer van arbeidsryke groei, weer eens – vir die derde agtereenvolgende kwartaal – gedaal het, en dit met 1,8%. Hy sê dat een van die sleutelbestanddele vir volgehoue vinnige groei ’n hoë vlak van vaste beleggings is – ideaalgesproke teen 30% van die BBP – ’n kritieke teiken wat deur die Nasionale Ontwikkelingsplan uitgestippel is. Dit is tans op ongeveer 15% van die BBP, wat ontoereikend vir Suid-Afrika se verlangde ekonomiese prestasie is.

“As ’n mens egter verder vorentoe kyk, met beurtkrag wat tans opgeskort is, het Nedbank ook voorheen op grond van beleggings in hernubare energie, sterker wêreldwye groei en bestendiger kommoditeitspryse verwag dat die BVKV in 2025 sal versnel. Hierdie uitkomste hang nietemin in ’n groot mate af van groter beleggersvertroue wat deur ’n voorspelbare en seker makro-ekonomiese raamwerk ondersteun word.”

Prof Parsons sê Suid-Afrika se jongste groeistatistiek stuur ’n sterk boodskap uit in die nadraai van die onlangse verkiesing. Dit is die ekonomiese imperatiewe wat sleutel- politieke leiers, wat tans by kritieke koalisiegesprekke betrokke is, sigbaar by hulle agenda van besprekings moet inkorporeer. Die uitkoms van die huidige koalisie-onderhandelings moet die nodige politieke stabiliteit en doeltreffende regering skep wat beleggings, groei en werkskepping ondersteun.

“Suid-Afrika het groei van 3% of meer nodig vir ’n groter, sterker en beter ekonomie. ’n Duidelike en voorspelbare beleidsomgewing sal dan besighede in staat stel om ’n langtermynperspektief op groei en ontwikkeling te hê.”

Submitted on Wed, 06/05/2024 - 09:53