Suid-Afrika moet daarop konsentreer om die huidige ekonomiese herstel te verbreed

Die goeie nuus oor Suid-Afrika se groeiprestasie in die tweede kwartaal van 2021 is te verwelkom. Dit suggereer ’n stadige maar bestendige herstel van die skokke wat as gevolg van die verdere inperkings en burgerlike onrus vroeër hierdie jaar ervaar is.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), het kommentaar gelewer op die groeisyfers van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die tweede kwartaal van 2021 wat Dinsdag 7 September deur STATS SA vrygestel is.

“Hoewel ’n groot gedeelte van die ekonomiese verbetering vanaf ’n lae basis is, is dit bemoedigend dat die helfte van die ekonomiese sektore in die ekonomie tydens die tweede kwartaal van 2021 groei getoon het. Veral uitvoere en verbruikersbesteding was robuus en het hernude groei ondersteun.”

Prof Parsons sê dat, namate die ekonomie aanhou herstel, huidige ekonomiese tendense voorspel dat BBP-groei vir 2021 as geheel ongeveer 4,5% tot 5% sal wees.

“Hoewel hierdie groeitendense getuig van die veerkragtigheid van aktiwiteit te midde van ernstige sosio-ekonomiese uitdagings, is die ekonomie nog geensins buite gevaar nie. Die impak van die negatiewe faktore in die tweede kwartaal van 2021 gaan nog steeds in die derde kwartaal van 2021 gevoel word. Ekonomiese groei is nog nie hoog genoeg om werkloosheid in Suid-Afrika te stabiliseer nie, en groeivooruitsigte vir 2022 en 2023 bly rondom 2% of minder.”

Volgens hom moet die “herstel” van die ekonomie dus tot volgehoue arbeidsryke groei lei.

Hy verduidelik dat vastekapitaalvorming in die tweede kwartaal van 2021 met 0,9% gestyg het nadat dit in die eerste kwartaal met 3,1% afgeneem het. Die klein omkeer van vastekapitaalbelegging is ook vanaf ’n lae basis, maar is ’n positiewe ontwikkeling. Beleggersvertroue sal nietemin in die tyd wat voorlê steeds noukeurig gekoester moet word.

Suid-Afrika moet op betekenisvolle wyses proaktief aan die verbreding en verdieping van die huidige ekonomiese herstel bou. Dit beteken dat die gewone beperkings op hoër inklusiewe groei – soos die gebrek aan energiesekerheid, swak vertroue en stadige vordering met strukturele hervormings – sal voortgaan om die tempo van Suid-Afrika se vordering na ’n groter, sterker en beter ekonomie te vorm. Dit het steeds dringende aandag nodig.”

Submitted on Wed, 09/08/2021 - 10:23