Namate die winter ons verlaat en die lente met sy sonskyn verwelkom word, het duisende “aanvallers” tot aksie oorgegaan om dié deel van die bevolking wat aan allergieë en hooikoors ly, te treiter.
Volgens prof Frank Neumann, vakvoorsitter vir geologie en grondwetenskap by die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Geo- en Ruimtelike Wetenskappe, het hierdie aanvallers een ding gemeen: Hulle is meestal uitheemse stuifmeeldraers wat in die eerste plek nie in Suid-Afrika hoort nie. Die stuifmeel kom van plante wat dikwels onder klimaatstres is omdat hulle nie vir hierdie klimaat geskik is nie, en deurlopend met kort tussenposes groot hoeveelhede stuifmeel vrystel.
“Hierdie skuldiges is uitheemse bome en plante wat in Suid-Afrikaanse tuine aangetref word en uit Europa, Asië en Noord-Amerika in die Noordelike Halfrond kom. Hulle begin vanaf Augustus stuifmeel vrystel, asook swamme wat kort ná die eerste lentereën daarby aansluit.”
Hierdie produseerders van stuifmeel is soos die BBP’s van gewilde bome en tuinplante, en sluit plataan-, moerbei-, berke-, sipres- en eikebome in. Voeg nou grasstuifmeel en spore van swamme by en jy het ’n kragtige mengsel vir ’n allergiese ongemak.
Sprinkaanbos (ragweed), ’n Noord-Amerikaanse onkruid ook bekend as Ambrosia, voeg sy eie hoogs allergene stuifmeel by die mengsel, veral in die gebied rondom Potchefstroom, waar prof Neumann en sy studente stuifmeeltellings vir navorsingsdoeleindes meet en ook data vir die Real Pollen Count-webwerf* verskaf.
Hy sê die sprinkaanbos-tellings is besig om matige vlakke in Potchefstroom te bereik en is tot dusver baie hoër as in die res van Suid-Afrika. “Sprinkaanbosstuifmeel is hoogs allergenies en dit lyk of daar ’n hoë voorkoms van hierdie stuifmeel naby ons monsternemingsterrein is. Dit word bevestig deur ’n plaaslike algemene praktisyn en allergis, dr Jurgen Staats, wat met behulp van velpriktoetse aanduidings van bronne van allergiese reaksies by die plaaslike bevolking gekry het.”
Moderne toerusting spoor stuifmeel en spore na
Prof Neumann is ’n palinoloog (stuifmeelkundige)** wat op die gebied van aërobiologie werk en sê hulle werk gaan daaroor dat hulle stuifmeel en spore wat allergieë veroorsaak in die atmosfeer meet.
Die identifikasie en meting van luggedraagde stuifmeel- en swamspore (aerospora) is ’n nuwe aërobiologiese projek in Noordwes. Dit is op 15 November 2022 bekend gestel. Dr Dorra Gharbi, ’n aërobioloog, het begin om as deel van die projek aërospora (stuifmeel en swamspore) in die atmosfeer te meet.
’n Moderne volumetriese sporevalstrik word sewe dae per keer op die dak van een van die NWU se geboue geïnstalleer om vas te stel presies watter soort allergeniese stuifmeel op sekere dae voorkom en in watter hoeveelhede.
Die projek, wat nog in sy kinderskoene is, is deel van die landswye Suid-Afrikaanse Stuifmeelnetwerk (South African Pollen Network, SAPNET). Sy hoofondersoekers is prof Jonny Peter en dr Dilys Berman van die Longinstituut Allergie- en Immunologiekliniek (Lung Institute Allergy and Immunology Clinic) by die Universiteit van Kaapstad. Prof Neumann sê wanneer hulle ’n volle jaar se data het, hulle allergeniese onkruid, bome en tendense meer akkuraat sal kan identifiseer.
Die spanlede sluit Nikiwe Ndlovu in – die tegnikus verantwoordelik vir die weeklikse versameling van die monsters van die sporevalstrik by die NWU.
“Die drom van die sporevalstrik roteer twee millimeter elke uur van die dag sodat die valstrik deurlopend stuifmeel, swammateriaal en stofspore uit die lug kan versamel,” sê sy.
“Ons versamel hierdie monsters elke Maandag en verwerk die data vir elke dag. Dan ondersoek ons die mikroskoopskyfies met ’n ligmikroskoop en tel hoeveel stuifmeel van watter bepaalde bome en kruie ons in elke dag se monster aantref.”
Hierdie data word vir navorsingsdoeleindes gebruik en ook by die Real Pollen Count-webwerf (https://realpollencount.co.za) by UK ingedien.
Keneilwe Podile, tans ’n honneursgraadstudent in aërobiologie, sê die werk en die data wat hulle produseer, maak ’n verskil in die lewens van mense wat aan ’n chroniese allergie, asma en selfs dermatitis (wat deur velallergieë veroorsaak word) ly.
“As jy weet dat jy op bepaalde dae aan groot hoeveelhede allergeniese stuifmeel in die lug blootgestel word, kan jy jou risiko’s doeltreffend bestuur. Maklike stappe soos om jou vensters en deure toe te hou, gereeld jou klere te wissel of jou dokter te besoek om te leer hoe om jou simptome op daardie dae te bestuur, kan jou lewe met allergieë ’n bietjie makliker maak.”
Prof Neumann sê om die problematiese bone en plante te identifiseer, is maar net die begin. “Ons werk met verskillende rolspelers soos Openbare Gesondheid en Stads- en Streeksbeplanning by die NWU om behoorlike beleide op te stel om regeringsagentskappe en instellings oor hierdie bome en plante in te lig en vir hulle raad te gee. Ons hoop dat ons ’n punt sal bereik wanneer meer problematiese plante verban sal word en kwekerye dit nie mag verkoop nie,” sluit hy af.
*Die Real Pollen Count-webwerf (https://pollencount.co.za) is ’n nasionale webwerf vir stuifmeelmonsterneming van die Universiteit van Kaapstad (UK) se Longinstituut Allergie- en Immunologiekliniek. Verskeie plaaslike universiteite, insluitende die NWU, werk saam om areaspesifieke data aan die webwerf te lewer.
*Stuifmeelkunde behels die studie van stuifmeelkorrels en ander spore.
Video: NWU versamel stuifmeeldata
Prof Frank Neumann sê een van die opwindendste aspekte van die stuifmeelvalstrikprojek is om vas te stel hoe stuifmeel in die lug vervoer en versprei word. “Dit is belangrik om te weet watter tipes stuifmeel daar in die lug is in die gebied waar jy woon.”
Dr Dorra Gharbi verduidelik dat simptome van stuifmeelallergieë gewoonlik seisoenaal is, aangesien dit met die temporale patrone van stuifmeelvrystelling in die atmosfeer verband hou.
Keneilwe Podile sê sy het in aërobiologie begin belangstel, aangesien sy en haar susters aan allergieë ly. “Dit is ’n interessante veld wat deur data en ontleding kan help om die ellende van allergielyers te help verlig.”
Nikiwe Ndlovu versamel getrou monsters uit die sporevalstrik en verwerk die monsters om die stuifmeeltellings vir die week vas te stel.