Onderwys word dikwels as ’n roeping eerder as ’n beroep beskou. Maar daardie roeping ontaard vinnig in ’n nagmerrie wanneer onderwysers aangeval word deur juis dié mense wat hulle probeer opvoed.
Oor die afgelope paar jaar was daar talle berigte in die media van leerders wat hulle onderwysers fisies aangerand, met messe gesteek en selfs geskiet het.
Dr Michael Nhambura, ’n alumnus van die Noordwes-Universiteit (NWU), het sy PhD-studie oor leerdergeweld by skole uitgevoer.
Die studie met die titel “Handling of violent behaviour of learners in secondary schools: A case study of Vryburg Cluster in North-West Province” is tussen 2017 en 2019 onder die studieleiding van dr Joyce Dhlamini van die Fakulteit Opvoedkunde gedoen.
’n Oorlogsone
Dr Nhambura sê dat 18 onderwysers van drie sekondêre skole aan die studie deelgeneem het. Die data is deur fokusgroepe, diepte-onderhoude met 15 onderwysers en een-tot-een-onderhoude met drie skoolhoofde ingesamel.
“Die hoeveelheid geweld wat by skole voorkom, beïnvloed onderrig en leer, wat skole onveilig maak, nie net vir onderwysers nie, maar ook vir leerders,” sê dr Nhambura.
Die studie het bevind dat die meeste van die geweld in skole bendeverwant is en dat wapens soms in stryery gebruik word. Dit het ook getoon dat leerders wat gewelddadig is dikwels onder die invloed van dwelms is.
Pogings om die probleem op te los
Volgens dr Nhambura het die gesinsorganisasie en -struktuur, die skool en die gemeenskapsomgewing ’n groot invloed op die gedrag van leerders.
Die studie het bevind dat om die geweld in hoërskole doeltreffend te bestuur, onderwysers die ondersteuning van die Departement van Basiese Onderwys, ouers en ander belanghebbers nodig het.
Skole maak hoofsaaklik op beleide en hulle dissiplinêre komitees staat om leerdergeweld te help bestuur. Onderwysers probeer om, terwyl hulle in die klaskamer is, verskeie strategieë te implementeer om hierdie uitbarstings te stop.
Dr Nhambura voeg by dat sy navorsing gehelp het om ’n psigo-opvoedkundige en psigososiale intervensieprogram oor die bestuur van geweld in sekondêre skole te ontwikkel.
Hierdie navorsing gaan waarskynlik nie die einde wees van dr Nhambura se poging om te verstaan waarom sommige leerders so gewelddadig is nie. Hy het onlangs ’n hoofstuk in ’n akademiese boek juis oor hierdie onderwerp geskryf. Dit is ongetwyfeld waar dat onderwysers sowel as ouers baie graag meer wil leer oor wat gedoen kan word om die toenemende probleem van geweld by skole te bestuur.
Dr Michael Nhambura het sy PhD-studie oor leerdergeweld by skole uitgevoer.