Studie kyk na die gesondheidsvoordele van plantgebaseerde voeding

Navorsers van die Noordwes-Universiteit (NWU) ondersoek die rol van heelvoedsel- plantgebaseerde voeding in Suid-Afrika.

Prof Andrew Robinson en dr Nanine Wyma, tans ’n meestersgraadstudent aan die NWU, is medestigters van die doktersvereniging vir voeding in Suid-Afrika (Physicians Association for Nutrition (PAN) South Africa). Hulle is besig met navorsing met die hulp van die Afrika-eenheid vir Transdissiplinêre Gesondheidsnavorsing (AUTHeR) aan die NWU.

PAN Suid-Afrika is die plaaslike afdeling van ’n internasionale nie-winsgewende organisasie wat ten doel het om die manier te verander waarop die wêreld eet. Dit word gedoen deur gesondheidskundiges, studente en beleidsvormers op te voed oor die rol wat heelvoedsel- plantgebaseerde voeding in die bevordering van gesondheid en die voorkoming van siekte speel.

Die voorlopige navorsingsresultate wat deur PAN Suid-Afrika gedeel word, fokus op die manier waarop plantryke diëte vir tipe 2-diabetes in Suid-Afrika geïmplementeer kan word.

Gevallestudie kyk na diabete in heelvoedsel- plantgebaseerde eetuitdaging

Prof Robinson sê die navorsing is ’n gevallestudie wat 10 Suid-Afrikaanse diabete betrek het wat vir 21 dae lank ’n heelvoedsel- plantgebaseerde eetuitdaging aangepak het.

“Hierdie intervensies is al goed in ander lande soos die Verenigde State van Amerika en Indië gedokumenteer, en is die eerste studie van hierdie tipe voedingsintervensie in Suid-Afrika. Dit is belangrik dat dit bygedra het om ’n verband tussen voeding en klimaatsverandering, en COP27 se implementeringsagenda vas te stel. Die resultate sal in 2023 gepubliseer word.”

Prof Robinson, wat ook die adjunkdekaan vir strategie en besigheidsontwikkeling in die NWU se Fakulteit Gesondheidswetenskappe is, sê navorsing deur PAN Suid-Afrika is noodsaaklik, aangesien die wêreldwye voedselstelsel verantwoordelik is vir ongeveer eenderde van die totale wêreldwye kweekhuisgas-emissies (GHGe).

“Die doelwitte wat in die Paryse Ooreenkoms in 2015 gestel is – om aardverwarming tot 1,5 ˚C te beperk – sal nie bereik kan word indien ons nie die manier verander waarop die wêreld eet nie, selfs as huidige fossielbrandstofemissies nie meer bestaan nie.”

Hy sê diereproduksie is ’n vername aandrywer van klimaatsverandering, en is verantwoordelik vir 60% van die totale voedselverwante emissies – gelyk aan ongeveer 20% van die wêreldwye totale GHGe.

“Dit is ontstellend dat die teel van diere vir voedsel ook tot een derde van die metaan-emissies bydra, wat oor ’n tydperk van 20 jaar 80 keer kragtiger as koolstof is. Daar word gesê dat om diereprodukte uit jou dieet weg te laat en net plantgebaseerde voedsel te eet, die enkele beste manier is om jou individuele koolstofvoetspoor te verklein, en voedselverwante koolstofemissies te halveer.”

Volgens prof Robinson is die doel van ’n heelvoedsel- plantgebaseerde dieet om meer minimaalgeprosesseerde graan, bone, vrugte, groente, neute en sade in te bring.

“Gesonde plantgebaseerde diëte is nie net goed vir die omgewing nie, maar word ook gebruik in die voorkoming, bestuur en, in sommige gevalle, die omkering van chroniese nie-oordraagbare siektes (NCD’s) soos tipe 2-diabetes, kardiovaskulêre siektes en sommige kankers.”

“As ’n mens daaraan dink dat NCD’s die vernaamste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika en die wêreld is, het die volg van ’n heelvoedsel- plantgebaseerde dieet die mag om ons dringendste omgewings- en wêreldwye gesondheidskwessies te hanteer,” sluit prof Robinson af.

Hierdie navorsing is by die 2022 Food4Climate-paviljoen by die VN se klimaatsveranderingkonferensie (Climate Change Conference, COP27) aangebied.

Prof Andrew Robinson

Submitted on Fri, 04/28/2023 - 10:56