Van klimaatsverandering en verwante uiterste weerstoestande tot besoedelstowwe, oorbenutting en indringerspesies – menslike aktiwiteit is die hoofoorsaak dat varswaterspesies in Suid-Afrika se grootste vloedvlakte-ekostelsel bedreig word.
So sê die Waternavorsingsgroep (WRG) van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat al die afgelope 10 jaar aktief betrokke is by studies wat met waterbewaring in die Pongolarivier en vloedvlakte (PRF) verband hou.
Die groep se navorsing beklemtoon hoe varswaterspesies in die PRF in gevaar is as gevolg van ’n aantal antropogeniese bedreigings – wat beteken dat dit risiko’s is wat met menslike aktiwiteite verband hou.
Die navorsing word gelei deur prof Nico Smit en prof Victor Wepener van die WRG, in die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en -bestuur, saam met internasionale medewerkers van KU Leuven (België) en die Hokkaido Universiteit (Japan). Die span bestaan uit spesialis-waterbioloë en -ekoloë.
Hulle doel is om die risiko’s te bepaal vir hierdie belangrike sosio-ekologiese stelsel van die plaaslike en wêreldwye impak wat onder andere klimaatsverandering op die hoeveelheid en kwaliteit van water het.
Groot biodiversiteit ondersteun menslike en waterlewe
Die Pongolarivier, wat sy oorsprong in Mpumalanga het, vloei eers ooswaarts voordat dit noord draai en deur die Lebombo-bergreeks in Suid-Afrika se noordelike KwaZulu-Natal loop en uiteindelik in Maputobaai in Mosambiek uitmond. Die PRF bestaan uit een van die grootste en mees biodiverse vloedvlaktestelsels in Suid-Afrika.
Die PRF beslaan ongeveer 10 000 ha, wat tot 13 000 ha vergroot wanneer dit in volle inundasie is. Dit word gekenmerk deur die permanente en tydelike vloedvlakteholtes (wat plaaslik panne genoem word) en wat óf permanente, periodieke óf geen verbinding met die rivier het nie, sê prof Wepener.
Die natuurlike vloeistelsel bepaal die heterogeniteit van die vloedvlaktehabitat, verduidelik hy.
“Panne wat uit die rivier gevoed word, funksioneer as broeiplekke en as voedingsareas vir nomadiese spesies. Dit is ook bekend dat die tydelike panne endemiese spesies huisves, en dus ’n unieke diversiteit verteenwoordig.”
Die verbinding tussen die rivier en die vloedvlakte maak ook die uitruiling van organiese materiaal, voedingstowwe en waterplante moontlik. Die beweging van die water speel dus ’n belangrike rol in die gesondheid van die rivier-ekostelsel en die produktiwiteit van die vleilande.
“Dit is die produktiewe aard van die stelsel wat ’n bydrae lewer tot die hoë biodiversiteit asook die benuttingspotensiaal vir plaaslike gemeenskappe,” verduidelik prof Wepener.
’n Ekostelsel onder druk
Suid-Afrika se PRF, wat waterorganismes betref, is uiters divers en van nasionale en internasionale belang. Die studie het bevind dat die water-ekostelsel van die PRF as gevolg van geweldig baie menslike aktiwiteite onder geweldige druk is.
“Dit wissel van grootskaalse invloede soos klimaatsverandering en verwante uiterste weerstoestande, tot die impak van ’n plaaslike aard, soos besoedelstowwe, oorbenutting en indringerspesies,” sê prof Wepener.
Bo en behalwe hierdie drukfaktore het die studie ook bevind dat die PRF-ekostelsel geweldige aanpasbaarheid getoon het in die hantering van al hierdie antropogeniese stressors.
Daar is tans geen bewyse wat ’n verlies aan spesiediversiteit toon nie. Dit is ten spyte van meer as ’n tienvoudige toename in die menslike bevolking wat afhanklik is van die dienste van die ekostelsel wat deur die PRF verskaf word, ’n vyf jaar lange reënvalperiode wat onder die gemiddelde is, met geen vloedvrystelling vanaf die Pongolapoortdam nie, en ’n verkleining van die gebied wat onder formele beskerming is.
Die studie het egter bevind dat daar ten minste vir die visse – hoewel al die spesies steeds daar is – ’n duidelike verskuwing in die gemeenskapstruktuur en dominansie is.
“Die belangrikste vraag vir die PRF is dus steeds: hoe lank – en veral in die lig van die voorgesette gebrek aan die voorkoms van vloede en die toenemende menslike nedersetting en aktiwiteite – kan die sosio-ekonomiese stelsel van die PRF veerkragtig bly voordat dit heeltemal ineenstort? Om hierdie baie belangrike vraag te beantwoord, stel ons voor dat toekomstige navorsing gedoen word oor hierdie en soortgelyke stelsels in Afrika en in die wêreld, en dat die Een Gesondheid-benadering gevolg word,” sê prof Wepener.
Een Gesondheid (One Health) is ’n multidissiplinêre en samewerkende benadering om die optimale gesondheid van mense, diere en die omgewing te verseker.
Terwyl die groot en diverse Pongola-ekostelsel tot dusver nog goed funksioneer, is dit net ’n kwessie van tyd voordat dit gaan verander. Hoëvlakkundigheid in waterbiologie en -ekologie was nog nooit so belangrik nie.