Studente plaas NWU onder die allerbestes op ranglys

Studente plaas die Noordwes-Universiteit (NWU) onder die room van die oes van Suid-Afrikaanse universiteite wat studente-ervaring en afkampusleer betref. Dit is volgens die pasvrygestelde StuDocu World University Ranking 2021.

Die NWU het ’n indrukwekkende hoë afkampusleer-telling van 9 uit 10 ontvang en is in die algehele vierde plek in die land vir studente-ervaring geplaas. Volgens die graderings word die NWU as die veiligste universiteit in Suid-Afrika beskou. Dit word met ’n telling van 9,4 uit 10 boaan die lys van Suid-Afrikaanse universiteite geplaas. Die NWU het ook die hoogste plaaslike gradering van 9,4 vir sport ontvang, en het met ’n telling van 8,9 die eerste plek vir geriewe gedeel.

Die opname vir die ranglys het aan huidige studente en onlangse gegradueerdes gevra om hulle universiteite op ’n skaal van 0 tot 10 te plaas, met 0 die laagste en 10 die hoogste gradering. Dit dui aan wat die gehalte van die ervaring tydens afkampusbedrywighede tydens die pandemie was soos die NWU-studente dit beleef het.

Die StuDocu World University Ranking verskil van ander ranglyste. Hoewel dit na akademiese reputasie kyk, sluit dit ook die kampuslewe en faktore in wat spesifiek vanuit die student se oogpunt belangrik is. Dit is die eerste keer dat Suid-Afrikaanse universiteite by hierdie ranglys ingesluit word.

Hierdie ranglys neem die ervarings van meer as 45 000 van 1 800 universiteite regoor 30 lande in ag. Die NWU is 34ste in die EMEA-streek (Europa, die Midde-Ooste en Afrika) geplaas.

Die graderingsopname het aan studente gevra om die universiteite met betrekking tot 15 kategorieë te gradeer. Dit sluit elemente soos kos, lewensgehalte, die afspraakomgewing, afstandstudie, veiligheid, sport, kultuur, gehalte van kursusse, (opkampus)behuising, ligging, geriewe en gemeenskaplike areas, akademiese reputasie en werksgeleenthede, studentegroepe, sosiale klubs en studenteverenigings, toeganklikheid vir gestremde studente, finansiële bystand, en diversiteit in.

Prof Dan Kgwadi, visekanselier en hoof van die NWU, sê dit is bemoedigend om te sien dat die NWU se gewaardeerde studentebelanghebbergroep die universiteit in so ’n positiewe lig beskou.

“Ons sien dit as ’n bevestiging van die gehalte van opvoeding en lewendige studentelewe waarvoor die NWU nog altyd bekend was en wat ons deurlopend probeer bevorder en verbeter.  Ons kan die resultate sien van die implementering van ons strategie en sorgsaamheidsetiek, waarin ons personeel op akademiese sowel as ondersteuningsgebied hulle tyd en kundigheid belê het. Ons hoop dat die nasionale inentingsprogram ons in staat sal stel om in 2022 ons kampusse volledig vir kontakaktiwiteite en klasse oop te maak.”

Submitted on Tue, 09/14/2021 - 15:13