Studente gee hulle mening oor die belangrikheid van innovasie en entrepreneurskap

deur Vukosi Mathale

In die dinamiese landskap van innovasie en entrepreneurskap kom studente sterk na vore met vars perspektiewe en met vindingryke idees om besighede mee te begin. Om vir kompetisies soos Leopards Lair® in te skryf, gee vir hierdie jong denkers vol aspirasies ’n plek waar hulle kan wys wat hulle kan doen.

Studente het op 1 September 2023 tydens die finale rondte van die Noordwes-Universiteit (NWU) se 2023 Leopards Lair®-kompetisie hulle innoverende sake-idees aan ’n paneel beoordelaars en vername gaste voorgelê. Die gebeurtenis is deur die Tegnologie-oordrag en Innovasiesteun-kantoor aangebied en is deur die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die NWU Besigheidskool, die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings, en die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum ondersteun.

Die kompetisie verskaf ’n betekenisvolle leerervaring aan NWU-studente wat belangstel om nuwe ondernemings as ’n alternatief vir tradisionele indiensneming te skep of om besigheidsontwikkelingservaring te verkry.

FLeather, die wenner van die nagraadse kategorie van NWU Leopards Lair®, wat ook die heel eerste Bongani Foundation se prys vir volhoubaarheid gewen het, het hulle planne voorgelê vir ’n alternatiewe leermaatskappy wat sampioenwortels as grondstof gebruik. Die FLeather-span bestaan uit Madelein de Jager, Le Roux Bernard en PJ Prinsloo, al drie honneursgraadstudente in besigheidsbestuurswetenskappe.

Hulle projek beloof om die duur leerbedryf op sy kop te keer. Hulle gaan dit regkry deur volhoubare sampioenleer te kweek, wat van miselium, die vegetatiewe deel van die sampioen, gemaak word. Die vervaardigingsproses sluit’n 99% verminderde watergebruik in vergeleke met konvensionele diereleer.

Madelein sê hulle deelname aan die Leopards Lair® 2023 het hulle die geleentheid gegee om eksterne ekostelsels te benut om die projek moontlik te maak.

“Hierdie blootstelling wat ons gekry het deur ons sake-idee by die Leopards Lair®-kompetisie voor te lê, het ons gehelp om liefhebbers van diereleer te oortuig om ons meer volhoubare sampioenleer te gebruik. Ons het geleer dat die beste werkwyse vir ons sakeonderneming is om ons produk op ’n besigheid-tot-besigheid-basis (B2B) te plaas, wat ons kliëntebasis sal verbreed,” sê Madelein. Sy voeg by dat die span ook potensiële beleggers nader om hulle verder te help om te groei en om FLeather ’n volhoubare en veilige beginonderneming te maak.

Zander van der Watt, ’n ingenieurstudent wat die voorgraadse kategorie met sy Positech-muntoutomaat gewen het, het die tradisionele muntoutomate – wat sedert die 1980’s grootliks onveranderd is – heeltemal hervorm. Hy het met ’n hele nuwe ontwerp vorendag gekom en moderne tegnologieë gebruik om die betroubaarheid en voorkoms te bevorder. Hy het sy eerste drie prototipe-masjiene vervaardig, wat tans baie goed in proeflopies in die veld doen.

“Leopards Lair® het ’n platform verskaf om ons muntoutomate bekend te stel en terugvoer van kundiges en gebruikers te verkry. Die terugvoer het gehelp om te identifiseer watter aspekte van ons konsep die meeste aandag ontvang het en watter areas verdere verfyning nodig het. Dit sal ons uiteindelik help om ons sake-idee te verfyn,” sê Zander.

Leopards Lair® is steeds die afspringplek vir jong innoveerders en verskaf aan hulle ’n platform om hulle dapper idees in die werklikheid om te skakel. Die stories van FLeather en die Positech-muntoutomaat beklemtoon die ongelooflike potensiaal wat in die studentegemeenskap opgesluit is. Met hulle passie, vindingrykheid en vasberadenheid is die studente gereed om ’n blywende impak op hulle onderskeie bedrywe te maak en om toekomstige geslagte van entrepreneurs te inspireer. Hierdie jong denkers is inderdaad die argitekte van ’n blinker, meer innoverende toekoms.
Kyk na beeldmateriaal van die formele Leopards Lair®-dinee hieronder:

Die Positech-muntoutomaat, wenner in die Leopards Lair®-kompetisie se voorgraadse kategorie.

FLeather, die wenner in die nagraadse kategorie van die Leopards Lair® kompetisie.

Submitted on Fri, 09/29/2023 - 08:55