Studente-entrepreneurs ding mee vir môre se sukses

en Vukosi Mathale

Die vyfde jaarlikse Leopards Lair®-kompetisie waar studente hulle besigheidsidees voorlê, het op 1 September 2023 plaasgevind en is gesamentlik deur die TTIS, die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings (SBAB) en die bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum aangebied. Dit is ’n opwindende sameloop van die 2023 NWU-studente-entrepreneurskapprogram en het aan die topstudente-entrepreneurs van die NWU die geleentheid gegee om hulle innoverende idees by die Opvoedkundesaal op die Potchefstroomkampus aan ’n paneel gerekende eksterne beoordelaars voor te lê.

Hierdie kompetisie bied aan NWU-studente ’n waardevolle leergeleentheid in die wêreld van entrepreneurskap en nuwe besighede en verskaf ’n opwindende moontlikheid vir diegene wat baie graag die skepping van nuwe ondernemings wil ondersoek as alternatief vir tradisionele indiensneming, of om praktiese besigheidsontwikkelingservaring op te doen. Aspirerende entrepreneurs het regdeur die jaar die geleentheid gehad om regoor al drie kampusse aan oefenkampe vir entrepreneurs deel te neem en die geleentheid te verdien om aan hierdie opwindende kompetisie deel te neem. Deelnemers het by die finale geleentheid die gedugte taak gehad om hulle idees vir ’n besigheid en hulle voorlegging daarvan binne ’n baie kort vyfminuteraamwerk voor te lê, waarna ’n paar uitdagende vrae deur die paneel beoordelaars gevra is.

Prof Jefferey Mphahlele, adjunk-visekanselier vir Navorsing en Innovasie, het die verwelkoming hanteer en sy dankbarheid uitgespreek teenoor die borge wat so ruim tot die sukses van die kompetisie bygedra het.

“Ons is geweldig dankbaar om erkenning aan ons borge te gee, veral aan die Nasionale Intellektuele Eiendombestuurskantoor (NIPMO), die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC), die Bongani Foundation en die NWU se Kantoor van die Visekanselier. Aan die verteenwoordigers van ander universiteite, ons verwelkom julle, en aan die studentefinaliste, ons wens julle alles van die beste toe.”

In sy boodskap van ondersteuning namens die visekanselier het die uitvoerende direkteur van Studentelewe, dr Sibusiso Chalufu, verduidelik hoe belangrik dit is dat die NWU toekomstige werkgewers eerder as werksoekers produseer.

Hy kon beswaarlik ’n groter ondersteuner kry as die BBP-gas dr Norah Clarke, direkteur vir Entrepreneurskapsontwikkeling in Hoër Onderwys (EDHE), wat entrepreneurskap regoor al die universiteite in Suid-Afrika bevorder.

“Ons moet holisties dink aan ’n ekostelsel wat die ontwikkeling van entrepreneurskap in al sy aspekte ondersteun. Slegs dan sal ons weet dat ons studente en gegradueerdes wat ekonomies kan oorleef en floreer aan die werksomgewing lewer.”

Die uitslag van die kompetisie was soos volg:

Thubelihle Zulu se Studio Gold, wat verhoogdewerklikheids- en virtuelewerklikheidsdienste aan kliënte lewer, het gesorg dat die jong man die derde plek inneem, gevolg deur Omphabaletse Rametse se Kampusfietsdiens, wat aan hom die tweede plek besorg het.

Zander van der Watt het ’n groot indruk op die beoordelaars gemaak met sy nuwegenerasie-Positech-outomaat, wat gesorg het dat hy as wenner van die voorgraadse kategorie weggestap het.

Daar was ’n opwindende stryd in die nagraadse kategorie. ’n Lewendige gelykopuitslag tussen Abigail Oliphant se Wethu Chocolates, wat met tradisionele geure soos melktert en malvapoeding gevul is, en Herme Nel se The RanchDoc, wat ’n mobiele app vir veeartsenydienste is, het gesorg dat hulle die derde plek deel. Bianca Boshoff en Anneri du Toit se PlanPharm, wat medisinale plante met ’n konsekwente fitochemiese inhoud kweek, het met die tweede prys weggestap.

Die wenners van die nagraadse kategorie, Fleather, het hulle planne voorgelê vir ’n maatskappy vir alternatiewe leer wat sampioenwortels as grondstof gebruik. Die span, wat bestaan uit Madelein de Jager, Le Roux Bernard en PJ Prinsloo, het in besonderhede verduidelik hoeveel water in die produksie van die volhoubare sampioenleer bespaar sal word. Hulle het ook die heel eerste Bongani Foundation-prys vir volhoubaarheid ontvang.

Die Bongani Foundation verteenwoordig ’n groep alumni en vriende wat in Nederland woon. In haar boodskap namens die trustees van die Bongani Foundation het me Sinky Mlambo die betekenis bespreek van maatskaplike, ekonomiese en omgewingsvolhoubaarheid vir nuwe ondernemings.

“Die volhoubaarheidsprys is ’n nuwe toekenning vir die projek wat die opwindendste, mees ambisieuse, maar tog realistiese intervensie bied om maatskaplike, ekonomiese en/of omgewingsvolhoubaarheid te bevorder. Vir die maatskaplike en ekonomiese dimensies kyk ons na die plaaslike impak waar waardeverspreiding oorweeg word, en vir die omgewingsdimensies oorweeg die projek sirkelvormigheidsbeginsels,” het sy gesê.

Die gebeurtenis Vrydag is lewendig op YouTube uitgesaai, met meer as 600 mense wat ingeskakel het. Om na die formele dinee te kyk, klik op die volgende skakel: https://youtube.com/live/4Rc_OEpm3xg?feature=share

....

Zander van der Watt – Voorgraadse wenner

....

Van links PJ Prinsloo, Madelein de Jager and Le Roux Barnard – Nagraadse wenners

Submitted on Thu, 09/07/2023 - 08:57