Strukturele oplossings strek verder as monetêre beleid

Soos die meeste mense verwag het, het die Monetêrebeleidskomitee (MBK) met ’n meerderheid van 3:2 besluit om vir eers die rentekoerse onveranderd te laat in plaas daarvan om dit met ’n verdere 25 basispunte te verhoog.

In sy kommentaar op die MBK se besluit op 20 Julie het prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool by die Noordwes-Universiteit (NWU), gesê dat dit in die lig van die jongste wêreldwye en plaaslike ekonomiese dwarsstrome, asook die kumulatiewe impak van die vorige rentekoersstygings op die ekonomie, die regte besluit van die MBK was.

“Aangesien die inflasiekoers begin het om te daal tot vlakke binne die inflasieteikenband van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), glo die MBK dat dit vir eers genoeg op die teeninflasiefront gedoen het. Die feit dat leenkoste voorlopig gestabiliseer het, sal ’n positiewe uitwerking op sake- en verbruikersvertroue hê.”

Prof Parsons wys daarop dat die MBK se verklaring nietemin die risiko’s ten opsigte van die inflasievooruitsig as steeds aan die styg beskou. “Daarom moet die oorkoepelende boodskap van die MBK se besluit as ’n ‘aggressiewe verposing’ geïnterpreteer word, aangesien dit met waarskuwings oor moontlike verdere rentekoersstygings saamhang. Rentekoerse is moontlik nog nie op hulle hoogste punt nie.”

Hy sê dat die verdeelde MBK-stemming die moontlikheid daarvan weerspieël. Toekomstige besluite ten opsigte van tydsberekening en oordeel namate nuwe data oor die volgende paar maande na vore kom, is steeds daar. Hoewel die MBK sy groeivooruitsig vir die bruto binnelandse produk (BBP) vir 2023 opwaarts vanaf 0,3% tot 0,4% aangepas het, bly die groeivooruitsig vir 2024 op ’n baie beskeie 1%.

“Soos die MBK-verklaring weer eens beklemtoon het, kan die SARB nie probleme oplos wat buite sy gebied van bevoegdheid lê nie, byvoorbeeld die fiskale beleid, energie-uitdagings of pryse wat geadministreer word nie. Tog is sulke faktore deesdae deel van die land se risiko en so ook rentekoerse en die wisselkoers. Hoe laer die land se risiko is, hoe makliker raak dit vir die SARB om sy algehele mandaat uit te voer.”

 

Volgens prof Parsons lê die strukturele oplossings dus verder as bloot die monetêre beleid, maar eerder in beleidsrigting en implementering as geheel.

Submitted on Fri, 07/21/2023 - 10:04