“Vennootskappe tussen die regering, die privaat sektor en die burgerlike samelewing is noodsaaklik vir enige agenda vir volhoubare ontwikkeling. Ervaring in Afrika het egter getoon dat deelname deur plaaslike gemeenskappe aan ontwikkelingsprojekte selde interaktief of bemagtigend is,” sê Otsile Maditsi, ’n PhD-kandidaat en dosent by die Sentrum vir Inheemse Kennisstelsels (IKS) van die Noordwes-Universiteit (NWU).
Dit hoef egter nie die geval te wees nie. Otsile redeneer in sy PhD-navorsing dat inheemse gemeenskappe van praktyk (GvP’s) ’n platform verskaf waar die stemme, regte, kennis en ervarings van plaaslike gemeenskappe gehoor, gerespekteer en by onderhandelinge op ontwikkelingsagendas ingesluit kan word.
Die onderwerp van die navorsing is “The role of indigenous communities of practice in fostering community engagement and partnerships for sustainable development in Africa”.
Otsile sê die kern van gemeenskapsbetrokkenheid en vennootskappe is dat dit inklusief, responsief, billik en eties moet wees.
“’n Inheemse gemeenskap van praktyk word ontwikkel, verkry en bestuur deur ’n samehorige groep mense wat gewoonlik eties of kultureel verbonde is en inheemse kennis gebruik om probleme te hanteer om te kan oorleef.”
GvP’s is grootliks produkte van plaaslike inheemse kennis- en regeringstelsels, sê hy. Sy navorsing gebruik ’n tematiese ontleding van twee Suid-Afrikaanse GvP’s om te illustreer hoe die beginsels, waardes, gedeelde visie en doelwitte van volhoubare gemeenskapsbetrokkenheid en vennootskappe onder belanghebbers gebou kan word.
“Inheemse kennis is die maatskaplike kapitaal van enige gemeenskap, en ontwikkelingsagentskappe in Afrika gebruik GvP’s saam met die produsente, bevorderaars en praktisyns van kennis as pilare en boublokke om volhoubare betrokkenheid en vennootskapbane te sluit,” sê Otsile.
Otsile Maditsi.