Stabiele RNE saam met beleidsekerheid sal sakevertroue maksimaliseer

Nadat ’n uiters geslaagde vrye, regverdige en vreedsame waterskeidingsverkiesing op 29 Mei gehou is, onderneem Suid-Afrika nou om ’n Regering van Nasionale Eenheid (RNE) saam te stel om ’n verkiesingsuitkoms te navigeer waar geen enkele party ’n meerderheid behaal het nie. Om die nuwe politieke dinamiek te bestuur en stabiliteit te verskaf, word ’n RNE nou gevorm.

Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) Besigheidskool, sê hoëgroei-ekonomieë bou gewoonlik hulle voorspoed op stewige en stabiele politieke basisse.

“Die nuwe RNE kan vanselfsprekend nog nie daar wees nie, aangesien dit nog in ’n tussentydse fase is. Die tekens is egter nou baie meer bemoedigend wat goeie regering betref. En die RNE-beleidsvooruitsig gaan waarskynlik vir Suid-Afrika in ’n beleggersvriendelike posisie plaas, wat meer deur oorwegings van doeltreffendheid, stabiliteit en konsekwentheid gedryf sal word.”

Prof Parsons sê in hierdie veranderde politieke omstandighede is die vorming van ’n RNE op nasionale vlak, en van ’n Regering van Provinsiale Eenheid in sekere provinsies, dus ’n potensieel positiewe ontwikkeling vir die Suid-Afrikaanse ekonomie.

“Teen die agtergrond van politieke ekonomie waarin baie veld verloor is en ekonomiese kwesbaarheid geskep is, bied hierdie regerings ’n reeks nuwe geleenthede wat Suid-Afrika se toekomstige ekonomiese prestasie kan versterk. Verwagtings moet egter getemper word, aangesien die omvang van geleenthede sal afhang van die mate waarin politieke en ekonomiese werklikhede in die praktyk versoen kan word.”

Hy beklemtoon dat die oorheersende Suid-Afrikaanse uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid steeds met ons is en met nuwe ywer en toewyding aangepak moet word. Met die vorming van ’n RNE het die balans van waarskynlikhede duidelik verskuif ten gunste van ’n toekomstige nasionale agenda wat hervormings wat tot groei verbind is, sal bespoedig. Besighede behoort nou te reageer op wyses wat sal help dat die RNE uiteindelik suksesvol is deur tasbare resultate te lewer.

“Die sukses van ’n RNE sal uiteindelik getoets word teen die mate waarin dit kan demonstreer wat bereik is, insluitende deur samewerking met die privaat sektor. Die dwarslat van responsiwiteit en aanspreeklikheid is beduidend hoër gestel. ’n Basis vir die RNE is nou gelê om die skepping van ’n ‘leweringstaat’ te fasiliteer om die landsburgers en besighede op verskillende vlakke te dien. Ideologieë moet opsy geskuif word – die oorheersende boodskap van die onlangse verkiesing was ’n opdrag om resultate te lewer.”

Volgens prof Parsons verskaf die RNE ’n gesamentlike geleentheid om verskeie bestaande groeivriendelike, maar halfvoltooide beleide en projekte spoediger in plek te stel om beleggersvertroue en arbeidsryke groei ’n hupstoot te gee. Die RNE kan ook verdere stukrag verleen aan die bestaande belangrike samewerking tussen die regering en sakeondernemings, veral in die hoëprioriteitsgebiede van energiesekerheid, logistiek en die hantering van misdaad en korrupsie.

“Met Suid-Afrika se BBP-groei wat op die oomblik tot ongeveer 1% tot 1,5% per jaar beperk is, is die uitdaging vir die RNE om die regte beleide te implementeer wat Suid-Afrika in staat sal stel om uit sy laegroeivalstrik te breek sonder om in ’n skuldvalstrik te verval. Indien die RNE sy kaarte reg speel, kan dit Suid-Afrika in staat stel om uiteindelik ’n groter, sterker en beter ekonomie daar te stel.”

Prof Parsons sê die uiteindelike rol en samestelling van die RNE kan ook die hand van die Nasionale Tesourie op twee maniere versterk: eerstens deur die rol van Operasie Vulindlela te versterk met die implementering van infrastruktuurprojekte, en tweedens deur die staatsbeursie te beheer en seker te maak dat Suid-Afrika se skuldlas in bedwang gehou word. Dit vereis dikwels moeilike besluite en beleidskompromieë wat inklusiewe politieke ondersteuning nodig het.

“En verskeie van die oplossings is inderdaad voor die hand liggend, maar vereis nuwe momentum om dringende en doeltreffende implementering te verseker. Die RNE moet vir homself spertye vir belangrike prioriteitsdoelwitte stel. Die vorming van ’n RNE en die onvermydelike vestigingstydperk hoef ook nie uitgerek te word nie. Daar is verskeie bestaande planne wat gebruik kan word, en nie te veel beleidswiele hoef van vooraf uitgevind te word nie. Die bygewerkte Nasionale Ontwikkelingsplan, wat wye politieke steun geniet, kan byvoorbeeld vinnig help om verdere gebiede van sosio-ekonomiese ooreenkomste onder die RNE-deelnemers te identifiseer. Dit sal help om voldoendekonsensus-uitkomste te fasiliteer.”

Prof Parsons sê ekonomiese groei is natuurlik nie ’n kuur vir alle siektes of ’n einde aan alle pyn nie. Suid-Afrika se onlangse ekonomiese ervaring het egter die omvang getoon waartoe ander doelwitte– soos werkskepping en die bestuur van skuld – gestel kan word sodat dit makliker bereik kan word en die konflik daar rondom kan versag. Groei is nie alles nie, maar daarsonder kan baie min bereik word. Dit is die moeite werd om Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings te help verlig.

“Optimisme oor die RNE-samewerking moet nietemin omsigtig wees. Dit is steeds vroeg in die proses vir die nuwe politieke bestel om momentum te verkry. Die RNE se verklaring van voorneme het nog steeds net buitelyne en moet nog uitgebou word. Deelnemers is besig met ’n groot leerkurwe in ’n sfeer waar verskeie politieke slaggate en risiko’s steeds bestaan. Heelwat verskillende RNE-scenario’s kan nog ontvou namate onderhandelings vorder.”

Hy verduidelik dat die toekenning van poste in die nuwe kabinet (wat op die beginsel van breë proporsionaliteit gegrond word) – veral dié in die ekonomiese kluster – byvoorbeeld steeds uitgeklaar moet word, en dat die keuses vertroue moet inboesem. Die beoogde agenda vir nasionale dialoog moet ook nie dinge uitstel wat dringend geïmplementeer moet word nie. ’n Week in die politiek kan lank wees, maar vyf jaar is ongelooflik kort om iets tot stand te bring.

“Baie hang ook af van die mate van goeie trou en vertroue wat deur die deelnemers aan die RNE belê word sodat volhoubaarheid verseker kan word. Kollektiewe regering moet nie op ’n warboel van verbreekte beloftes afstuur nie. Uitgebreide koalisieregering in Suid-Afrika bly ’n baie nuwe terrein vir die land se politieke ekonomie. Buitengewone dissipline en deursettingsvermoë gaan vereis word om die sinici stil te maak. Politieke leierskap van ’n hoë graad gaan vereis word om die stabiliteit en sukses van ’n RNE te verseker.”

Prof Parsons sluit af deur te sê dat ’n stabiele politieke omgewing in die RNE, tesame met beleidsekerheid, die kombinasie is wat sake- en beleggersvertroue sal maksimaliseer. “Suid-Afrika het nou ’n nuwe vlaag energie en doeltreffende leierskap nodig om in die algemeen dinge anders en beter te doen. Die land moet dringend ’n nuwe nasionale ekonomiese doelwit bou wat die nasie kan mobiliseer en wat ’n RNE moet onderskryf.”

Submitted on Wed, 06/19/2024 - 08:29