Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê in die lig van die dreigende ekonomiese en fiskale uitdagings skets die Mediumtermynbegroting-beleidsverklaring (MTBBV) ’n realistiese maar kwesbare fiskale prentjie vir Suid-Afrika.
In sy kommentaar op die MTBBV wat die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, op 1 November aan die parlement voorgelê het, wys Prof Parsons daarop dat verskeie van die fiskale risiko’s wat in die Februarie-begroting voorspel is, waar geword het en deur die minister erken is.
“Hoewel dit dalk onvermydelik was dat die Mediumtermynbegroting toegelaat het dat staatskuldvlakke selfs hoër styg, moet dit as ’n tydelike maatreël beskou word wat steeds deur die toepaslike ekonomiese stappe reggestel moet word. Daar was duidelik geen aptyt vir moeilike besluite in die Mediumtermynbegroting nie.”
Hy sê aan die positiewe kant erken die MTBBV dat wat ook al die huidige fiskale beperkings is, die volhoubaarheid van staatsfinansies op die langer termyn van hoër inklusiewe ekonomiese groei en die hernude konsolidering van besteding afhang.
“Die verbintenis om die nasionale departemente en ander staatsentiteite meer vaartbelyn te maak om die koste van die regering te verminder, word ook verwelkom. Die afdwinging van streng voorwaardes rakende reddingsboeie aan problematiese entiteite in staatsbesit, soos Transnet en Eskom, soos dit in die MTBBV uiteengesit is, is nodig. Dit was ook onvermydelik dat die maatskaplike noodlenigingstoelae vir ’n verdere twee jaar verleng word.”
Volgens prof Parsons bly Suid-Afrika se staatsfinansies egter op ’n gevaarlike koers, en die risiko’s vir die fiskale vooruitsig by hoog.
“Dit is dus noodsaaklik dat sulke remedies en hervormings soos in die Mediumtermynbegroting beloof is, so spoedig as moontlik tasbaar geïmplementeer word. Met die projeksie dat die oorkoepelende skuld-tot-BBP-koers binne twee jaar 77% gaan bereik, sal dit die hoogste in Suid-Afrika se fiskale geskiedenis wees wat dit nog ooit was. Wat in die 2023 MTBPS skynbaar steeds nie na vore kom nie, is ’n duidelike fiskale plan om die tekorte en staatsbesteding in die mettertyd te verlaag.”