Spring gou vir Robin Banks werkswinkel

Het jy al jou kaartjie gekoop vir die mag-nie-misloop werkswinkel deur Robin Banks, die vooraanstaande kundige oor die onderwerp van denkkrag en persoonlike meesterskap? Indien nie, moet jou gou spring om jou plek te bespreek.

Op Donderdag, 10 Oktober, sal Robin Banks sy hoogaangeskrewe werkswinkel, “Success is a choice”, op die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark aanbied.

Dié werkswinkel is die resultaat van ’n samewerkende onderneming tussen die bHive-ondernemingsonwikkelingsentrum (OOS) en die Alumnikantoor op die kampus.

Volgens Annelie Steenkamp, ’n verteenwoordiger van die bHive-OOS, is die doel van die geleentheid om die gemeenskap te motiveer en te bemoedig om geleenthede vir sukses aan te gryp en daardeur ’n beweging van proaktiwiteit te begin – veral met betrekking tot entrepreneurskap.

Die koste wissel tussen R200 per persoon vir NWU-personeel en lede van die gemeenskap, en R100 per kaartjie vir studente. Persone wat belangstel, moet registreer vir die geleentheid deur ’n e-pos aan Annelie.Steenkamp@nwu.ac.za  of Zanele.Ngobese@nwu.ac.za  te stuur.

Meer oor Robin Banks

Robin is ’n gesogte internasionale spreker en het sy lewe gewy daaraan om wêreldwye bewustheid te verander. Sy uiteindelike begeerte is om mense in staat te stel om beheer te neem van hulle lewens en om ’n beter toekoms vir hulleself, hulle gemeenskap, hulle land en die planeet te skep.

Hy neem gereeld aan radio- en televisieprogramme deel, word in koerant- en tydskrifartikels aangehaal, en het al aansienlik gereis en regoor die wêreld gepraat. Hy het die kuns van kommunikasie bemeester en gebruik sy kennis van groepdinamika om ’n kragtige, lewensveranderende boodskap te lewer.

NWU verbind tot deurlopende bemagtiging

“Ons as die Alumnikantoor bly verbind tot die deurlopende bemagtiging van ons gegradueerdes en ons is trots om saam met die bHive-OOS te werk om hierdie fenomenale entrepreneur ’n spreekbeurt te gee,” sê Zanele Ngobese.

Sy sê dit is belangrik vir individue wat ’n impak kan maak om bewus te wees van hulle besluitnemingsprosesse – iets waarop die komende werkswinkel sal fokus. “Ons werk te gereeld outomaties, doen dinge uit gewoonte eerder as om besluite te neem, en ek is opgewonde oor die leergeleentheid wat Robin se kuier meebring.”

*Die bHive-OOS verteenwoordig ’n dinamiese spil van entrepreneursaktiwiteit in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.

 

Robin Banks.

Submitted on Wed, 10/09/2019 - 09:09