Spoedige ekonomiese hervormings moet geïmplementeer word vir beter groeivooruitsigte

“Die goeie nuus is dat Suid-Afrika op die ou end ’n ‘tegniese resessie’ (twee agtereenvolgende kwartale van negatiewe groei) naelskraap vermy het deur in die vierde kwartaal van 2023 ’n geringe styging van 0,1% in die bruto binnelandse produk (BBP) geregistreer het.”

In sy kommentaar op die groeisyfers vir die vierde kwartaal van 2023 wat op 5 Maart vrygestel is, het prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, gesê dit volg op ’n daling van -0,2% in die BBP in die derde kwartaal van 2023.

Hy wys daarop dat daar in sommige kringe vrese was dat die groeisyfers van die vierde kwartaal ook negatief kan wees.

“Die slegte nuus is dat – op die basis dat ekonomiese groei vir 2023 as geheel 0,6% is – indien die huidige tendense voortduur, die ekonomie waarskynlik hierdie jaar ’n groei van ongeveer slegs 1% gaan toon. Dit is min of meer in ooreenstemming met die mees onlangse groeivoorspellings, maar steeds te laag om aan Suid-Afrika se sosio-ekonomiese uitdagings te voldoen.”

Volgens prof Parsons is ’n hardnekkige rooi vlag die verdere daling in bruto vastekapitaalvorming in die vierde kwartaal van 2023. Hy sê dit bevestig die negatiewe tendens in privaat vaste beleggings in 2023, soos dit deur die onlangse Nedbank Capital Projects Listing-opname aangedui is.

“Hoër vlakke van vaste beleggings in die tyd wat voorlê, is nodig om arbeidsryke groei aan te moedig, en beklemtoon die belangrikheid van beleggersvertroue.”

Prof Parsons sê die boodskap is steeds dat hierdie negatiewe tendense omgekeer kan word, en beleggersentiment kan versterk word indien energiesekerheid verseker kan word, logistieke struikelblokke uit die weg geruim en beleidsonsekerheid verminder kan word. “Hoe vinniger die beloofde ekonomiese hervormings geïmplementeer kan word, hoe beter sal die groeivooruitsigte vir die ekonomie wees.”

Submitted on Wed, 03/06/2024 - 12:09