Speltoetser om gratis afgelaai te word nou vir SA-tale beskikbaar

 

Die Speltoetsers vir Suid-Afrikaanse Tale (Spelling Checkers for South African Languages), ’n spel- en woordafbrekingtoetser-instrument vir tien van Suid-Afrika se amptelike tale, Engels uitgesluit, is nou beskikbaar om gratis van die webwerf van die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLAR) afgelaai te word.

Hierdie instrument, wat ontwikkel is deur die Sentrum vir Tekstegnologie (CTexT®), wat by die Noordwes-Universiteit (NWU) gebaseer is, word gratis deur SADiLaR vir die publiek beskikbaar gestel. SADiLaR word as deel van die Suid-Afrikaanse Navorsingsinfrastruktuur-padkaart (SARIR) deur die Departement van Wetenskap en Innovasie (DWI) befonds.

SARIR is ’n sistemiese intervensie van die DWI om navorsingsinfrastruktuur regoor die hele openbare navorsingstelsel te verskaf. Daar word op bestaande vermoëns en sterk punte gebou en toekomstige behoeftes word in ag geneem.

Die spelling- en woordafbreking-instrument, wat saam met die Microsoft Office Suite werk, stel die gebruiker in staat om hulle Suid-Afrikaanse taal in die relevante Microsoft-sagteware te kies. Dit herken en korrigeer dan spel-, woordafbreking- en tikfoute en verskaf voorstelle vir alternatiewe vir woorde wat nie herken word nie.

Die speltoetser bied ’n omvattende woordelys vir Afrikaans, Ndebele, Xhosa, Zulu, Swati, Suid-Sotho, Noord-Sotho, Tswana, Tshivenda en Tsonga.

Ter erkenning van die feit dat ons Suid-Afrikaanse tale bitter min hulpbronne het wat beskikbare data betref wat vir instrumente soos hierdie vereis word, en dat taal die hele tyd verander en ontwikkel, verskaf die instrument ook ’n doelgemaakte woordeboek waar gebruikers woorde wat hulle gereeld gebruik en wat nie in die instrument se bestaande woordelyste is nie, kan byvoeg.

As die gebruiker wil, kan hierdie doelgemaakte woordeboeke dan met die ontwikkelaar gedeel word sodat dit geverifieer en by toekomstige bywerkings ingesluit kan word. SADiLaR verwelkom ook die hulp van bydraers en medewerkers om die instrument se woordelyste uit te brei.

Prof Khumalo Langa, uitvoerende direkteur van SADiLaR, sê: “SADiLaR is ’n nasionale navorsingsinfrastruktuur met ’n mandaat om navorsing en ontwikkeling op die gebied van taaltegnologie en taalverwante studies te ondersteun.

“Dit is dus ’n groot oorwinning vir ons dat ons so ’n waardevolle instrument beskikbaar kan stel om meertaligheid in Suid-Afrika te ondersteun en om die nodige tegnologiese hulpbronne op te bou om te verseker dat ons tale in die Vierde Industriële Revolusie relevant bly.”

Dr Martin Puttkammer, hoof van CTexT®, sê: “Deur nou saam te werk met taalkundiges by Suid-Afrikaanse universiteite en met die nasionale taalliggame, het ons speltoetsers ontwikkel wat woorde volgens die amptelike ortografie van elke taal evalueer.

“Ons hoop dat as ons die speltoetsers vryelik beskikbaar stel, sal dit help om die digitale teenwoordigheid van al ons inheemse tale te versterk, die produksie van meer digitale tekste in hierdie tale sal fasiliteer, en vir al ons landsburgers toegang tot inligtingstegnologie sal verleen .”

Om die speltoetser af te laai en vir meer inligting, besoek die SADiLaR-webwerf.

Vir meer inligting en vir onderhoude, kontak asseblief die SADiLaR-span by info@sadilar.org.

Submitted on Mon, 10/10/2022 - 12:17