Sosiale media in die klaskamer: meer voordele as nadele

Die koms van sosiale media het ’n baie groot uitwerking op onderrig en leer gehad, maar baie min is bekend oor die voor- en nadele van die gebruik van sosiale media in die klaskamer.

So sê dr Thamie Ndlovu, ʼn opvoedkundige tegnoloog by die Noordwes-Universiteit (NWU), wie se PhD-studie die gebruik van sosiale media as instrument vir onderrig en leer in hoër onderwys ondersoek het.

“Akademici in verskillende hoëronderwysinstellings eksperimenteer aktief met sosialemediaplatforms (SMP’s) om samewerking, aktiewe leer, kenniskonstruksie en kritiese denkvaardighede te stimuleer,” sê hy. “Sommige universiteite het die gebruik van SMP’s aangegryp as ’n platform om onderrig en leer te bevorder.”

Met SMP’s as ’n nuwe instrument vir studente en leerders om hulle onderrig en leer te bevorder, het dit ’n gewilde onderwerp vir studies in opvoedkundige navorsing geword.

“Daar is egter beperkte gegewens beskikbaar om die voor- en nadele van die gebruik van sosiale media in die klaskamer te evalueer,” sê dr Ndlovu.

Sy studie wil struktuur in die situasie inbring deur ’n raamwerk te ontwikkel wat die gebruik van sosiale media as ’n instrument in onderrig en leer moontlik maak.

Dit is belangrik, aangesien daar ’n paar uitdagings is wat verband hou met die manier waarop SMP’s tans gebruik word.

“Hierdie studie het bevind dat SMP’s nie tot hulle volle kapasiteit gebruik word nie omdat raamwerke wat dit moontlik maak, nie bestaan nie. Met die getal SMP’s wat beskikbaar is, is dit ook ’n uitdaging om ’n geskikte platform te kies,” voeg hy by.

“Ander uitdagings is sekuriteit, dinge wat die aandag aflei en ’n gebrek aan ondersteuning, wat steeds die gebruik van SMP’s in hoër onderwys aan bande lê. Die resultate het voorts aangedui dat die voordele van die gebruik van SMP’s as instrument vir onderrig en leer ver meer as die uitdagings was.”

Vanuit die perspektief van die kundiges wat aan dr Ndlovu se studie deelgeneem het, het die gebruik van sosiale media vir opvoedkundige doeleindes die onderrig- en leerproses baie verbeter. “Dit stel dosente in staat om na studente se digitale leerstyle te kyk en bied kreatiewe maniere om tydens die leerproses met studente te skakel.”

Sy studie het bevind dat dit belangrik is om pedagogie, kursusinhoud en sosialemediaplatforms te oorweeg wanneer sosiale media vir onderrig en leer gebruik word.

“Gebruikers en privaatheid en sekuriteit speel ook ’n baie belangrike rol in die sukses van die gebruik van sosiale media vir onderrig en leer.”

Oor die navorser

Dr Thamie Ndlovu is ’n jong en dinamiese leier en akademikus, en ’n selfgemotiveerde, skrander en hardwerkende persoon. Hy is ’n opvoedkundige tegnoloog met nege jaar ervaring in hoër onderwys.

Hy streef daarna om ’n innoverende, uitdagende en onderhoudende leeromgewing te skep wat studente in staat stel om lewenslange leerders te word.

Met ervaring in onderrigontwerp, kurrikulumontwikkeling en opvoedkundige tegnologieë, is hy bedrewe in die integrasie van tegnologie by onderrig en leer, en die integrasie met sinchrone, asinchrone, vervlegte, hibriede, Hyflex- en aanlyn leeromgewings.

Benewens sy PhD in inligtingstelsels en rekenaarwetenskap wat hy aan die NWU verwerf het, het dr Ndlovu ook ’n meestersgraad in inligtingstelsels en rekenaarwetenskap (ook by die NWU verwerf), en ’n nagraadse diploma in hoër onderwys van Rhodes Universiteit.

Thamie Ndlovu

Dr Thamie Ndlovu se PhD-studie het die gebruik van sosiale media as instrument vir onderrig en leer in hoër onderwys ondersoek.

Hy gesels oor sy navorsing hier.

Submitted on Fri, 10/28/2022 - 10:17