Sorg vir onsself en die mensdom tydens die Covid-19-pandemie

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in Maart 2020 die uitbreking van ’n nuwe koronavirussiekte (Covid-19) tot ’n wêreldwye pandemie verklaar. Talle mense word nou deur gevoelens van bekommernis of angstigheid oorval, veral deur die waarskuwings wat die hele tyd verander, die mediadekking, en die nasionale staat van inperking as gevolg van die koronavirus.

Twee kundiges van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Skool vir Psigososiale Gesondheid, prof Ansie Fouché en prof Hayley Walker-Williams, stel verskeie hanteringstrategieë voor na aanleiding van die geestesgesondheid- en psigososiale riglyne vir die Covid-19-uitbreking soos dit deur die WGO gepubliseer is. Dit is bedoel om mense tydens hierdie angswekkende tyd te help.

Om hierdie inligting vaartbelyn te maak, gebruik hulle die akroniem: S.E.R.V.E., wat ook die universiteit se waardes onderskryf – naamlik ’n sorgsaamheidsetiek.

  • Stay connected (bly in kontak) – Dink aan kreatiewe maniere om in kontak te bly en met ander te kommunikeer, insluitende deur sosiale media, e-pos of telefoonoproepe. Kontak skep betekenis en doelgerigtheid. Kontak jou kollegas, jou bestuurder of ander persone wat jy vir sosiale ondersteuning kan vertrou – jou kollegas het moontlik dieselfde ervarings as jy.  
     
  • Ethic of care (sorgsaamheidsetiek) – Beskerm jouself en ondersteun ander. Help ander in hulle tyd van nood. Die makkerstelsel help om ondersteuning te gee, stres te moniteer en veiligheidsprosedures vas te lê. Hou jou verwagtings ten opsigte van die personeel in jou departement of van jou bestuurder en ander kollegas realisties. Kollegas kan dit moontlik moeilik vind om te fokus, aangesien hulle jong kinders of bejaarde ouers moet versorg, hulle gewone huistake moet hanteer, ens. Wees geduldig met ander mense. Jy weet nie wat hulle omstandighede is nie, en moenie verwag dat ander so produktief sal wees as voor die uitbreek van Covid-19 nie.
     
  • Routine/Reframe (roetine/herbeplan) – Skep ’n daaglikse roetine wat jou basiese behoeftes vervul en bekend bly. Prioritiseer dinge wat jy geniet en selfs dié dinge wat jy altyd wou doen, maar waarvoor jy nooit tyd gehad het nie. Wissel jou werk-van-die-huis-af-skedule af met dinge wat jou energie gee, insluitende fisieke aktiwiteit en ’n bederfpakkie met ’n inspirerende boek of ’n plak sjokolade. Probeer om anders na hierdie tyd te kyk en dit as uniek en tydelik te beskou, en soek na geleenthede om positiewe verhale en positiewe foto’s van hierdie buitengewone tyd – wat uiteindelik verby sal wees – op te bou. Kry vir jou ’n vaste plek om te werk, stel ’n doelwit vir elke dag, skryf dit neer en merk dit af. Dit sal jou help om die positiewe dinge te evalueer en jou produktiwiteitsvlak te bepaal.
     
  • Values (waardes) – behou jou waardes. Moenie dat vrees en angs jou besluite of interaksie met ander bepaal deur ander mense te etiketteer, te stigmatiseer of te verstoot nie. Iemand kan geïnfekteer of siek wees, maar te bang om dit te sê omdat hulle bang is hulle word gestigmatiseer. Ons is almal saam in hierdie ding – kom ons toon empatie, verdraagsaamheid en integriteit. Vereer versorgers en gesondheidsorgwerkers wat mense in jou gemeenskap ondersteun wat deur Covid-19 geraak word. Gee erkenning aan die rol wat hulle speel om lewens te red en jou geliefdes veilig te hou.
     
  • Exposure (blootstelling) – beperk blootstelling aan die nuus en die media. Oorweeg dit om ’n spesifieke tyd van die dag te kies wanneer jy daarna sal kyk, en maak seker dat dit van gesaghebbende en betroubare nuus- of mediabronne of van die Wêreldgesondheidsorganisasie af kom. Moenie nuus kyk of lees wat jou angstig of ontsteld laat voel, of daarna luister nie. Soek hoofsaaklik na inligting oor praktiese dinge wat jy kan doen om jou planne voor te berei en jouself en jou geliefdes te beskerm. Soek een of twee keer per dag op ’n spesifieke tyd na bygewerkte inligting.

Let asseblief op na die belangrike kontaknommers hieronder.

 

    

Prof Ansie Fouché en Prof Hayley Walker-Williams.

 

Submitted on Tue, 04/14/2020 - 12:53