Die sonteleskoop van die Sentrum vir Ruimtenavorsing wat op die dak van gebou G5 op die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus geleë is, het die aandag van organisasies soos die BBC en Royal Astronomical Society getrek.
Dr Ruhann Steyn, senior lektor en hoofwetenskaplike wat by die projek betrokke is, het onlangs die National Astronomy-vergadering in Cardiff, Wallis bygewoon, waar hy geloof is vir die uitnemende werk wat by die Sentrum vir Ruimtenavorsing gedoen word.
Die idee van die sonteleskoop het uit ’n groeiende belangstelling onder personeel, studente en die internasionale navorsingsgemeenskap ontstaan om dieper in sonfisika te delf. Hoewel die Sentrum vir Ruimtenavorsing fokus op astrofisika en heliosferiese fisika, wat die son se invloed binne die heliosfeer ondersoek, is die studie van sonfisika nog nie uitvoerig by die NWU of in Suid-Afrika ondersoek nie. Hierdie gebied fokus op die son se meganismes, lae, aktiewe streke, sonvlekke, sonvlamme en nog meer.
Die ontwikkeling van die projek het in verskeie fases plaasgevind. Befondsing is aanvanklik in 2017 gesoek om met ’n klein sonteleskoop en ’n primitiewe montering bewys van konsep vas te stel. Die span het ’n toegewyde waterstof-alfa-sonteleskoop (of H-alfa-sonteleskoop), ’n basiese kamera en ’n witligteleskoop vir nagsig verkry.
Hierdie instrumente het met projekte van studente gehelp en hulle gehelp om op opeenvolgende dae beelde van die son vas te lê om sonvlekke na te spoor en hulle beweging regoor die son se skyf te bestudeer. Die aanvanklike opset het die behoefte beklemtoon vir ’n meer geoutomatiseerde en permanente waarnemingstasie, aangesien dit onprakties is om vir lang tydperke onder die son beelde per hand vas te lê, wat risiko’s ten opsigte van hulle gesondheid meegebring het.
Opstelling van ’n permanente stasie
Die span het daarna vir bykomende befondsing aansoek gedoen om ’n permanente stasie met ’n koepel en ’n afstandbeheerde montering vir die teleskope op te rig. Die Instrumentvervaardigingsdepartement het die uitdaging onderneem om ’n koepel te ontwerp en te bou wat die uiterste temperature en toestande wat eie aan Suid-Afrika is, veral in Potchefstroom, kan weerstaan.
Die suksesvolle samewerking het tot gevolg gehad dat ’n pasgemaakte koepel gebou is, en dit het die pad oopgemaak vir die installering van die ten volle funksionerende sonteleskoop in die twee helfte van 2021.
Verskeie belanghebbers het ’n integrale rol in die projek se sukses gespeel, insluitende die Skool vir Fisiese en Chemiese Wetenskappe, die Sentrum vir Ruimtenavorsing en die Instrumentvervaardigingsdepartement. Hierdie entiteite was instrumenteel in die verkryging van befondsing, ondersteuning, navorsing en leiding in die navigering en verwerkliking van hierdie ingewikkelde en innoverende projek.
Die beduidendheid van die sonteleskoop lê in sy vermoë om die navorsingsrepertoire van die Sentrum vir Ruimtenavorsing oor sonfisika uit te brei. Anders as met ander hemelliggame, maak die son se nabyheid en grootte dit vir studie toeganklik sonder dat skrikwekkend duur toerusting benodig word. Sonstudies belyn baie goed met bestaande navorsing oor ruimteweer, sonvlekke, differensiële rotasietempo’s en vuurtonge – dinamiese verskynsels wat ruimtetoestande beïnvloed en ’n impak op tegnologiese stelsels soos satelliete kan hê.
Deur waardevolle data in te samel, lewer die sonteleskoop ’n bydrae tot ’n wêreldwye netwerk van navorsers wat saam werk om sonaktiwiteit te voorspel en proaktiewe maatreëls te ontwikkel om satelliete te beveilig en veilige interplanetêre reise vir ruimtereisigers te verseker.
Dr Steyn se onlangse voorlegging by die National Astronomy-vergadering het die sonteleskoop se vermoëns en die waarde wat dit aan die internasionale navorsingsgemeenskap bring, beklemtoon. By die aanbieding is die resultate ook gedeel van die honneursgraadnavorsing wat deur Calmay Lee gedoen is en wat ’n groot bydrae tot die sonteleskoopprojek gelewer het. Calmay se werk het vir haar erkenning by die konferensie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika verdien, waar sy die aanmoedigingsprys vir honneursgraadnavorsing in ruimtewetenskap ontvang het.
Dr Steyn wil in die toekoms ’n toegewyde sonfisika-navorsingsgroep binne die Sentrum vir Ruimtenavorsing op die been bring. Hierdie groep sal uit navorsers en ’n groep studente bestaan wat uitsluitlik op sonfisika sal fokus. Deur uurlikse of daaglikse foto’s van die son te neem en die data aan die wêreldwye navorsingsgemeenskap beskikbaar te stel, is die doel van die groep om die vermoëns van hierdie sonteleskoop te toon en gevolglik waarde by wêreldwye sonfisikanavorsing te voeg.
Dr Steyn beoog om hierdie beelde van wêreldgehalte wat nou in die suidelike halfrond gegenereer word, te bemark om die NWU se reputasie in sonfisikanavorsing te bevorder en samewerking in die wetenskaplike gemeenskap te verkry.
Hierdie innoverende projek, wat deur ’n toenemende belangstelling in die son se krag en die impak daarvan op ruimteweer gedryf word, het met sukses ’n bekwame en geoutomatiseerde sonwaarnemingstasie gevestig wat ’n mylpaal in sonfisikastudies in Suid-Afrika is.
Dr Ruhann Steyn, senior lektor en hoofwetenskaplike by die sonteleskoopprojek.
Die Sentrum vir Ruimtenavorsing se sonteleskoop.
Calmay Lee ontvang die aanmoedigingsprys vir honneursgraadnavorsing in ruimtewetenskap by die konferensie van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Fisika.
'n Foto wat met behulp van die sonteleskoop by die Sentrum vir Ruimtenavorsing geneem is.
Die sonteleskoop is gemonteer in die hoëtegnologiekoepel wat deur die NWU se Instrumentvervaardigingsdepartement ontwerp en gebou is.