Sonkragopleiding ʼn prioriteit by die NWU

Hernubare energie vorm ʼn toenemend belangriker deel van ons land se energiepakket terwyl daar van fossielbrandstowwe wegbeweeg word. Dit, tesame met ʼn ingesteldheid om meer omgewingsvriendelik te word, beteken dat hernubare energie, soos son- en windkrag, gewis gaan aanhou om  ʼn groter rol in kragopwekking te speel.  

Daarom het die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ingenieurswese ʼn vyf dae lange kortleerkursus van 3 tot 7 Oktober aangebied, wat deur die NWU se Eenheid vir Voortgesette Opleiding gefasiliteer is.  

SUNCybernetics is gekontrakteer om die opleiding aan te bied en praktiese lesse het op die NWU se sonplaas op die Potchefstroomkampus plaasgevind. Dié kortleerprogram is deur die Ingenieursraad van Suid-Afrika geakkrediteer en is met die Suid-Afrikaanse Fotovoltaïese Bedryfsorganisasie (South African Photovoltaic Industry Association, SAPVIA) se PV GreenCard-program belyn.

SUNCybernetics is ʼn onafhanklike maatskappy wat in sonkragverwante konsultasie- en opleidingsdienste spesialiseer. Dié maatskappy, wat in 2023 sy tiende bestaansjaar vier, het al verskeie sonkragprojekte gelewer wat netwerk- of hibriedstelsels en die opleiding van honderde installeerders van sonkrag en munisipale personeel insluit. SUNCybernetics word ondersteun deur hulle internasionale moedermaatskappy, SUNfarming, wat in Duitsland gehuisves word.  

Die kortleerprogram was oop vir enige persoon om dit by te woon.

“Deelnemers wat die opleiding bygewoon het, het van die fundamentele konsepte van sonkrag en sonkragstelsels geleer, hoe om ʼn sonkragstelsel optimaal te ontwerp, dit prakties te installeer en dit alles volgens die jongste nasionale standaarde en internasionale bestepraktykriglyne te doen. Die opleidingskursus is ʼn baie vol program en dié wat dit bygewoon het, is nou meer voorbereid om aktief aan die sonkragbedryf deel te neem, asook om die PV GreenCard-evaluering te ondergaan. Enige iemand wat belangstel om die sonkragbedryf te betree, hulle bestaande sonkragkennis wil opskerp, of selfs net meer wil leer oor sonkrag vir ’n sonkragstelsel wat hulle reeds het of binnekort gaan aanskaf, sal by hierdie opleiding baat. Daar is nie enige voorvereistes om die opleiding by te woon nie, maar om basiese wiskunde te kan doen en elektriese konsepte te verstaan, sal voordelig wees,” het Faure van Schalkwyk, opleidingshoof van SUNCybernetics, gesê.

Williem Mostert, Senior Spesialis: Besigheidsontwikkeling en Korporatiewe Betrekkinge, het sy dank aan die dekaan van die Fakulteit Ingenieurswese uitgespreek vir haar rol om die opleidingsessie te bewerkstellig: “Ons wil ook graag erkenning gee aan die leierskap en ondersteuning van professor Liezl van dyk om hierdie ooreenkoms tussen die partye te fasiliteer.”

Submitted on Fri, 10/14/2022 - 10:38