Die 2023-staatsrede (SONA), wat op 9 Februarie deur president Cyril Ramaphosa in die parlement gelewer is, het ’n omvattende, openhartige en realistiese evaluering van Suid-Afrika se huidige moeilike en uitdagende ekonomiese landskap gegee.
Prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, sê die staatsrede het in die algemeen die dringendheid erken vir die implementering van sleuteloplossings, veral in die hantering van ernstige uitdagings ten opsigte van energie, vervoer, misdaad, armoede en werkloosheid. Veral die Eskom-krisis het in die staatsrede voorrang geniet as die achilleshiel van Suid-Afrika se ekonomiese prestasie.
“Twee belangrike besluite was die afkondiging van ’n nasionale ramptoestand om die energiekrisis te hanteer en die voorgestelde aanstelling van ’n Minister van Elektrisiteit in die Presidensie. Met betrekking tot laasgenoemde sal die evaluering van die nuttigheid van hierdie aanstelling moet wag vir die groter herstrukturering van die regering en die skommeling van die Kabinet.”
Prof Parsons sê hoewel die nasionale ramptoestand moontlik besluitneming vir die hantering van die energiekrisis op verskeie vlakke kan verhaas, daar hierdie besluit ook nadele inhou.
“Ervaring met die staat van inperking tydens Covid-19 beklemtoon die behoefte aan deursigtige konsultasie met sake- en ander belanghebbers. Dit bly vir Suid-Afrika belangrik om lesse uit die hantering van die Covid-19-krisis te leer. Veiligheidsmaatreëls is nodig om korrupsie te voorkom, en die beoogde rol van die ouditeur-generaal is welkom. Dit is ook belangrik dat ’n nasionale ramptoestand om die elektrisiteitskrisis te hanteer as ’n tydelike oplossing beskou word, en dat ’n strategie vir die beëindiging daarvan reeds beplan word.”
Volgens prof Parsons bevestig die staatsrede dus dat die energiekrisis nou baie swaar op Suid-Afrika se ekonomiese en sakevooruitsigte inwerk. As gevolg hiervan stel die jongste hersiene groeivooruitsigte van die bruto binnelandse produk (BBP) deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) van slegs 0,3% in 2023, 0,5% in 2024 en 1% in 2025 die breë groeiparameters waarbinne Suid-Afrika in die algemeen en die regering in die besonder die land se sosio-ekonomiese uitdagings moet bestuur.
“Om ’n groter, sterker en beter ekonomie te kry, het die boodskap van die staatsrede spoedige implementering nodig om vertroue en geloofwaardigheid te help bou op wyses wat die sentrale posisie van die privaat sektor in die oplossings erken.”
Prof Parsons wys daarop dat ’n sterk tema in die staatsrede die behoefte is om vaste investering ’n hupstoot te gee en om vinniger groei en werkskepping aan te moedig, insluitende hoër teikens vir die volgende presidensiële beleggingskonferensie.
“Die realiteit is dat die persentasie van totale vaste investering nou slegs 14% van die BBP is – ’n verlaging vanaf ongeveer 19% ’n paar jaar gelede. Daar word nou wyd aanvaar dat ’n volgehoue groeikoers in die BBP van meer as 2% wat vir inklusiewe groei in Suid-Afrika vereis word, uiteindelik ’n totale vastekapitaalvormingondersteuning van ongeveer 25% van die BBP nodig het.”
Hy sê dat dit daarom belangrik bly dat die planne en projekte wat in die staatsrede uitgespel word, geïmplementeer word op ’n wyse wat beleidsonsekerheid beperk en kontinuïteit verhoog om beleggersvertroue te versterk.
Prof Parsons verduidelik dat dit ook uit die staatsrede duidelik is dat dit nutteloos is om nog langer op ’n stelsel te hamer wat nie resultate lewer nie, en dat hervorming die antwoord is. Tydsraamwerke moet gestel en afgedwing word, met gevolge wanneer daar nie daaraan voldoen word nie. Implementering en aanspreeklikheid is van die uiterste belang.
“Om sakevertroue te herbou, moet die politieke leierskap dus die versekering gee dat, ná afloop van die staatsrede, woorde met geloofwaardige optrede gerugsteun moet word. Indien ’n vertrouenskrisis suksesvol bestuur moet word, sal uitstekende dissipline en deursettingsvermoë in die toekoms nodig wees om die sinikusse se monde te snoer.”