President Cyril Ramaphosa het op 10 Februarie 2022 sy sesde staatsrede (SONA) gelewer sedert hy in 2018 tot die amp toegetree het. Dit was ’n toespraak waarvoor daar groot verwagtings was, en het ten doel om die algemene publiek en al die relevante belanghebbers in te lig oor die regering se vordering wat die afgelope jaar gemaak is, terwyl die planne en riglyne vir die jaar wat voorlê, uitgespel word. Hierdie jaar se toespraak is gelewer teen die agtergrond van ’n Suid-Afrika wat ’n wêreldwye pandemie moes hanteer, faksiegevegte wat in die African National Congress (ANC) plaasvind, ’n nimmereindigende stryd teen staatskaping, en boonop ’n sukkelende ekonomie wat vir die afgelope twee dekades nie daarin geslaag het om beduidende inklusiewe groei te lewer nie. Suid-Afrikaners het dus werklik daarna uitgesien om te hoor of die regering die omvang besef van die uitdagings wat op die sosio-ekonomiese horison lê, terwyl sy beleidsreaksies ten opsigte hiervan geëvalueer word. Mnr Jacques de Jongh en dr Precious Mncayi bespreek die vyf belangrikste sosio-ekonomiese insigte uit die president se toespraak.
- Werkskepping: Dit is ongetwyfeld Suid-Afrika se grootste sosio-ekonomiese kwelling op die oomblik. Die eng nasionale werkloosheidskoers is amper 35% (die breë koers is 46,6%) en meer as die helfte van die bevolking leef onder die armoedelyn. Jongmense is selfs slegter daaraan toe, met diegene tussen 15 en 24 jaar wat ’n werkloosheidskoers van 66,5% moet verduur, en dié tussen 25 en 34 jaar ’n koers van 43,8%. In hierdie verband het die president verskeie inisiatiewe aangekondig, insluitende die toename in die waarde en die uitbreiding van die kriteria vir ’n belastingaansporing vir jongmense wat in diens geneem word. Dit brei die maatskaplike indiensnemingskema uit om 50 000 tydelike werksgeleenthede te skep, asook ’n nuwe leningswaarborgskema vir klein besighede om toegang tot finansiering te bevorder. Die belangrikste is egter dat die president erken het dat hierdie inisiatiewe alleen nie genoeg sal wees om die uitdagings van werkloosheid, armoede en ongelykheid te hanteer nie. Om dit te kan doen, sal dit ’n privaat sektor vereis wat deur die regering ondersteun word. Om dit reg te kry, sal die skep van ’n bevorderlike omgewing met minder rompslomp en ’n verslapping van die wyse waarop besigheid gedoen word, help om die werk wat geskep moet word, moontlik te maak.
- Ondernemings in staatsbesit (OSB’s): Met ’n groot deel van die fokus op ondernemings in staatsbesit wat op Eskom gerig is, het die toespraak die bedreiging beklemtoon wat onstabiele elektrisiteitsvoorsiening vir ekonomiese en maatskaplike vordering inhou. Daarom sal die implementering van fundamentele veranderings aan hierdie sektor in die komende jaar plaasvind. Dit sluit veral die stigting van ’n onafhanklike staatsbeheerde transmissiemaatskappy as deel van die ontbondeling van die elektrisiteitsvoorsiener in. Ander inisiatiewe wat beklemtoon is, sluit die veldtog vir meer privaatsektor-staatsektor-samewerkings in – veral vir Transnet, sodat ’n vervoerinfrastruktuur van gehalte verskaf kan word. Hierbenewens is ’n nuwe gesentraliseerde aandeelhouermodel vir OSB’s aangekondig, wat die regering se beleidsfunksies van sy eienaarskap wil skei sodat politieke inmenging beperk kan word. Die enigste ding wat oorbly, is om te sien of sulke inisiatiewe in werklikheid gaan materialiseer.
- Korrupsie: In die staat se deurlopende stryd met staatskaping en korrupsie het die president gefokus op die vordering wat deur die Staatskapingskommissie gemaak is. Tot dusver het die eerste twee verslae van die kommissie die infiltrasie geïdentifiseer van sleutelstaatsinstellings deur ’n kriminele netwerk om staatsfondse te plunder. Hoewel dit ’n beduidende impak op die staat se vermoë het, sal korrupsie altyd die grootste invloed op die weerloosste lede van die samelewing hê. In die hantering hiervan het die beleidsreaksie van die toespraak hoofsaaklik op die versterking van instellings soos die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en sy ondersoekdirektoraat gefokus, asook op die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE). Die waarheid is dat korrupsie ekonomieë tot nadeel van sy burgers verwring en destabiliseer, en dit is dus noodsaaklik om instellings en die oppergesag van die reg te versterk, en bestaande teenkorrupsie-argitektuur te verbeter om ekonomiese groei te versterk.
- Universele basiese-inkomstetoelae (UBIT): Voor die toespraak was die basiese-inkomstetoelae onder die onderwerpe waarna daar die meeste uitgesien is, maar die president het nie spesifiek daarna verwys nie. Hy het wel aangekondig dat die maatskaplike noodlenigingstoelae (SRD) van R350 tot Maart 2023 verleng gaan word. Die toespraak het die positiewe impak erken wat hierdie toelae gehad het, veral in die afgelope twee jaar van die pandemie. Ten opsigte van die moontlikheid om die omvang van so ’n maatskaplikebeskermingmaatreël te verbreed, is dit duidelik gemaak dat enige voorstel eers die toets van bekostigbaarheid moet slaag, met inagneming van die uiterste fiskale beperkings wat die ekonomie tans ervaar.
- Misdaad en maatskaplike onrus: Ná die onrus van Julie 2021 was die president baie eerlik daaroor dat die regering se reaksie op die situasie onbeholpe was en dat hy self en die kabinet volle verantwoordelikheid daarvoor moet neem. In reaksie hierop, asook op die beduidend hoë misdaadvlakke wat voortgaan om sleutel- ekonomiese infrastruktuur te beskadig en om die lewenstandaard van alle Suid-Afrikaners negatief te raak, moet ’n aantal veranderings in staatsekuriteitsagentskappe prioriteit ontvang. Inisiatiewe in hierdie verband sluit in dat kritieke leierskapsveranderings by hierdie agentskappe afgedwing moet word, terwyl die kapasiteit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) verbeter moet word deur toereikende opleiding en hulpbronondersteuning wat daarop gemik is om ’n noemenswaardige aantal vakatures te vul.
In die lig van hierdie insigte het die grootste gedeelte van die president se toespraak die regte toon aangeslaan. Hy het nie weggeskram van die talle uitdagings wat die land op die oomblik in die gesig staar nie, en hy het ook nie probeer om enigiets anders voor te hou as dat ons weet dat ons as ’n land by ’n kruispad beland het nie. Hy het dit ’n nuwe ooreenkoms genoem wat nodig is, een wat samewerking tussen die staat en die privaat sektor moet bevorder – elkeen met sy eie afsonderlike funksie – sodat die onderliggende potensiaal van die Suid-Afrikaanse ekonomie vrygestel kan word. Daarom het die president sy kabinet ’n maksimum van 100 dae gegee om ’n nuwe maatskaplike ooreenkoms (tussen die regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing) daar te stel, een wat die vermoë het om die lewens van miljoene Suid-Afrikaners te verander en ’n groeiende en inklusiewe ekonomiese landskap te skep.
Die boodskap van ’n nuwe daeraad is egter al die afgelope vier jaar herhaal en belowe. Optimisme en oortuiging in die groter burgerlike gemeenskap is dus laag, en skeptisisme vier hoogty. Hoewel ’n deel van die hantering van ’n probleem is dat daar erken moet word dat die probleem bestaan, vereis dit ook die politieke wil, leierskap en dringendheid om die optrede te implementeer wat in reaksie daarop aangedui is. Dit is wat uiteindelik vereis word: optrede en implementering. Sonder hierdie vereistes sal die land en sy mense hulle in ’n deurlopende stryd bevind met die werklikheid van uiterste ontberings wat grootliks met die maatskaplike euwels van werkloosheid en armoede verband hou.