Slimfoonspeletjie-slimjan verwerf doktorsgraad

So jy dink jou soete Candy Crush-oorwinnings maak van jou ʼn slimfoon-slimjan? Dink weer. Tydens die herfsgradeplegtighede van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark het ʼn 26-jarige pas sy PhD in selfoonspeletjies verwerf!

Dylan Price speel vir solank as wat hy kan onthou al videospeletjies – van die dag wat hy sy eerste Sega-videospeletjie gekry het, is hy versot daarop.

Hierdie tydverdryf en passie het hom pas ʼn PhD in ekonomiese en bestuurswetenskappe met bemarkingsbestuur in die sak gebring. Sy studie was getiteld “Modelling the antecedents of mobile gaming brand loyalty amongst Generation Y students”.

Dylan se studie het ʼn strukturele model ontwikkel en getoets wat die invloed van satisfaksie, uitdaging, identifikasie en vloei van die speletjies op Suid-Afrikaanse Generasie Y-studente se selfoonspeletjie-handelsmerklojaliteit bepaal het.

Dié studie het voortgebou op die navorsing wat hy vir sy meestersskripsie gedoen het. Dit verskaf waardevolle insig vir organisasies wat selfoonspeletjies as platform gebruik om die winsgewende Generasie Y-marksegment te bereik.

Dr Dylan Price

Dylan het sy tersiêre studies met ʼn BCom in sportbestuur afgeskop, en het ook sy honneurs- en meestersgraad – beide met onderskeiding – aan die kampus verwerf.

Terwyl hy by die NWU was, was Dylan deel van die Onderrig en Navorsing-assistenteprogram en hy het reeds twee artikels in erkende internasionale joernale gepubliseer.

Ná sy troue in Desember 2018 is hulle George toe waar hy nou, die digitale bemarkingsafdeling van ʼn groot konsultasiefirma bestuur.

Dylan se raad aan enigeen wat dit oorweeg om vir ʼn PhD in te skryf, is om gereed te maak vir agt-tot-vyf-naweke. “Kies die regte promotors – hulle maak die wêreld se verskil. Myne het vir seker,” sê hy.

 

Submitted on Thu, 05/02/2019 - 08:35