Slegter groeisyfers bevestig skade aan die ekonomie

“Die groeisyfers van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die derde kwartaal van 2021 is swakker as wat verwag is indien dit saam met die onlangse rekordwerkloosheidsgetalle geneem word. Dit bevestig veral watter ernstige skade die burgerlike onrus van vroeër hierdie jaar en die hardnekkige beurtkrag aan die Suid-Afrikaanse ekonomie gedoen het.”

In sy kommentaar op die groeisyfers wat op 7 Desember deur StatsSA vrygestel is, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit (NWU), dat selfs landbou en mynbou – wat tot dusver by die wêreldwye ekonomiese oplewing gebaat het – in die derde kwartaal van die jaar ’n afname getoon het.

“Ons sal moet sien in watter mate binnelandse logistieke probleme tot hierdie negatiewe uitkomste bygedra het.”

Hy sê die goeie nuus is nietemin dat ná verskeie vorige kwartale van positiewe groei, Suid-Afrika se BBP waarskynlik steeds ’n “herstel” van ongeveer 5% of ’n bietjie minder vir hierdie jaar as geheel sal toon.

“Die groeivooruitsig vir 2022 het egter volgens die jongste BBP-syfers noodwendig verswak. ’n Spesiale bekommernis is die algehele lustelose prestasie van vastekapitaal-vorming. ’n Beduidende oplewing in privaat sowel as openbare beleggings word dringend benodig indien die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die volgende paar jaar volhoubare groei moet toon.”

Prof Parsons sê wat die jongste BBP-syfers weer eens beklemtoon, is dat besluite oor hoe om die huidige Omikron Covid-19-golf te hanteer, die staatsrede vroeg in Februarie, die fiskale strategie wat later die maand deur die Hoofbegroting uitgestippel gaan word, en die sukses van die volgende presidensiële konferensie in Maart daarvan sal afhang of ’n gunstige beleidsomgewing vir arbeidsryke groei geskep en in stand gehou word.

“2022 moet die jaar wees waarin ekonomiese remedies geïmplementeer word om die struikelblokke vir hernude groei te oorkom.”

Submitted on Wed, 12/08/2021 - 10:19