Skryf nou in - NWU se Ondernemende Vroue-program

Die nuwe jaar bring weer eens ’n opwindende en potensieel uitdagende geleentheid vir vroulike entrepreneurs in sentraal-Suid-Afrika deur middel van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Ondernemende Vroue-program (EWP).

Dit is hierdie jaar die sesde keer dat hierdie uiters geslaagde program deur die NWU se bhive Ondernemingsontwikkelingsentrum (EDC) in Vanderbijlpark aangebied word. Beginner- vroulike entrepreneurs word deur hierdie vlagskipprogram bemagtig om nie slegs hulle besigheidsdrome waar te maak nie, maar ook om trots te wees om aktiewe bydraers tot die Suid-Afrikaanse ekonomie te wees.

Die program het al vroulike entrepreneurs in staat gestel om baanbrekers op talle gebiede te wees, soos in app-ontwikkeling, spyseniering, in die konstruksiebedryf, mode-ontwerp, binnenshuise versiering, asook instandhoudingsbestuur. Ander het unieke produkte ontwikkel en bekendgestel om vir verskillende markte voorsiening te maak. Voorbeelde sluit in ’n ekovriendelike mobiele motorwasdiens vir groot besighede, die verwerking van plastieksakke in ontwerpermatte vir die toerismebedryf en selfs ’n taksidermiediens wat nommerpas vir die wild- en jagbedryf is. Verskeie van hierdie deelnemers aan die program verskaf nou werk aan ander vroue in hulle onderskeie gemeenskappe en neem selfs jongmense as interns in diens, en wys en leer hulle die krag van entrepreneurskap.

EWP Vanderbijlpark

Die EWP-kalender begin met die werwing van deelnemers vir die Vanderbijlpark-gedeelte van die program en dus alle vroulike entrepreneurs in die Vanderbijlparkstreek wat hulle eie sakeondernemings wil kommersialiseer en ontwikkel.

Twee inligtingsessies word onderskeidelik op 16 en 30 Januarie aangebied waartydens belangstellende entrepreneurs die organiseerders kan ontmoet en vir die agt maande lange program kan inskryf. Aansoeke moet voor 14:00 op Dinsdag 30 Januarie in wees.

Tydens die inligtingsessies sal voornemende deelnemers die geleentheid kry om direk te skakel met vroue wat die program in vorige jare suksesvol voltooi het en wat nou aan die hoof van hulle eie sakeondernemings staan. Volgens Johann Landsberg, bestuurder van die bhive EDC, sal vorige gegradueerdes van die program hulle ervarings met voornemende deelnemers deel en vertel wat hulle in die program geleer het deur vir hulle eerstehands te sê watter waarde die program vir nuwe ondernemings het.

Meer inligting oor die EWP en die inligtingsessies kan verkry word by die bhive EDC deur 016 910 3393 te skakel, of deur ’n e-pos aan bhive@nwu.ac.za te stuur.

 

 

Submitted on Thu, 02/01/2018 - 12:41