Skool vir Tale betreur die heengaan van taalveteraan

Die personeel, studente en lede van die Suid-Afrikaanse taalgemeenskap betreur die heengaan van prof Johannes Lenake – of Oom Johan, soos hy alombekend was. Hierdie taalveteraan het op 91-jarige ouderdom steeds sy skat van kennis met studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Vanderbijlparkkampus gedeel.

Prof Lenake is op 21 Mei 2020 oorlede.

In ’n roerende lofrede namens die NWU se Skool vir Tale en die UPSET-navorsingsfokusarea (Understanding and Processing Languages in Complex Settings-navorsingsfokusarea) het prof Susan Coetzee-Van Rooy ’n oorsig van sy gedenkwaardige loopbaan gedeel:

Prof Lenake het vir ’n tydperk van 28 jaar Suid-Sotho onderrig. Gedurende sy lang loopbaan as ’n uitmuntende dosent in Suid-Sotho, het hy op alle vlakke poste beklee. Hy was agt jaar lank ’n taalonderwyser by skole in Theunissen en Frankfort. Hy was vier jaar lank die hoof van ’n skool in Fouriesburg. Prof Lenake het in 1963 as taalassistent by Unisa begin werk en het hierdie pos 16 jaar lank beklee. Hy is in 1979 tot senior lektor by Unisa bevorder en het hierdie pos ses jaar lank beklee. In 1984 is hy tot medeprofessor bevorder en in 1987 tot volle professor, en het hierdie pos tot 1993 beklee, toe hy by Unisa afgetree het.

Ná 1993 het hy verskeie poste as konsultant vir Afrika-tale beklee, onder andere by die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus, waar hy op 91-jarige ouderdom ons steeds as dosent van Kommunikasie in Suid-Sotho en as lid van die Komitee vir Gevorderde Grade vir Afrika-tale bygestaan het. Tydens sy werksloopbaan het prof Lenake 16 skoolboeke in Suid-Sotho en 14 akademiese boeke vir Suid-Sotho ontwikkel. Prof Lenake het vyf vertalings van werke na Suid-Sotho en ’n magdom Afrikaanse en Engelse materiaal wat in skole gebruik word, gepubliseer.

Prof Johannes Lenake

 

 

Submitted on Wed, 05/27/2020 - 12:59