Skerp styging in mediadekking waarby die NWU betrokke is in 2022

Niemand kan sê dat 2022 nie ’n gebeurtenisvolle jaar ten opsigte van nuusgebeure was nie. Die inval in Oekraïne; ’n wêreldwye styging in inflasie; die dood van prominente figure, nie net in die vermaaklikheidsbedryf nie, maar ook groot internasionale persoonlikhede soos koningin Elizabeth II; en die toenemende effek van klimaatsverandering het onder andere die hoofopskrifte oorheers terwyl die wêreld se bevolking tot meer as 8 biljoen mense toegeneem het.

Plaaslik is Suid-Afrika met al hoe meer beurtkrag, politieke onrus en groter maatskaplike en ekonomiese uitdagings gebombardeer. Dit alles het joernaliste en verslaggewers in die gedrukte, uitsaai- en aanlyn media op hulle tone gehou en die drukperse en nuuskantore oortyd laat werk.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ook van Januarie tot Desember 2022 sy deel van gebeure in die kollig gehad. Trouens, te oordeel aan die totaal van 10 484 gedrukte en uitsaaiberigte en aanlyn artikels met ’n gesamentlike advertensiewaarde-ekwivalensie (AVE) van R585 466 849 in 2021, was daar ’n groot styging in nuusdekking oor die NWU. Volgens die mediamoniteringsagentskap MarketIQ het die totale artikels oor die NWU met meer as 4 000 tot 14 528 toegeneem, wat ’n verhoogde AVE van R610 251 693 tot gevolg gehad het. Dit beteken ’n indrukwekkende groei in AVE van R24 784 844.

Dit was die goeie en die slegte wat die NWU gedurende 2022 in die media se visier gehou het. Dit het ingesluit dat alumnus Arrie Rautenbach Absa se hoof- uitvoerende beampte geword het, prof Raymond Parsons van die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur wat gereeld oor deurslaggewende ekonomiese gebeure in Suid-Afrika kommentaar gelewer het; verskeie hoëprofielsportgebeure en die tragiese dood van gewaardeerde NWU-studente.

Kwessies rondom sport het die meeste voorgekom, gevolg deur gebeurtenisse, alumni, studentesake, die ekonomie, politiek, en navorsing. Die sport- en ekonomiekategorie was die hoogste AVE-verdieners vir die NWU, met R118 675 020 en R89 346 416 onderskeidelik.

Die media het gereeld oor prof Bismark Tyobeka, die NWU se hoof en visekanselier en een van die voorste kernkragkundiges ter wêreld, verslag gedoen en hom aangehaal.

Die NWU-kundiges prof Raymond Parsons van die NWU se Skool vir Besigheid en Korporatiewe Bestuur (840 media-items), prof André Duvenhage (418), prof Piet Croucamp (211) en prof Linda du Plessis (179) was ook prominent in mediaberigte.

Dit is veral in die aanlyn nuusomgewing waar die NWU in 4 064 nuusitems verskyn het, gevolg deur die gedrukte media (2 746) en uitsaaimedia (1 249).

As ’n mens die NWU se prominensie in die media in 2022 in gedagte hou, gaan die universiteit beslis voortgaan om die hoofopskrifte te haal namate hy sy reis voortsit om ’n internasionaal-erkende universiteit in Afrika en die wêreld te wees, wat bekend is vir uitnemendheid, gehalte-onderrig en buitengewone navorsing en innovasies.

Submitted on Thu, 01/19/2023 - 12:04