Siviwe Tyobeka: Wêreldburger wat kan

Dit is aanvanklik nie opmerklik nie. Eers wanneer Siviwe Tyobeka die verhaal van haar kinderjare vertel, begin jy dit hoor. Dofweg en buitengewoon. ’n Wonderlike intonasie. Die klank van die wêreld.

Siviwe is in Johannesburg gebore, maar hulle het na die Verenigde State van Amerika verhuis toe sy net agt maande oud was, aangesien haar pa, dr Bismarck Tyobeka (voorsitter van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Raad) sy hoeveelste graad in Pennsylvania voltooi het. ’n Halwe dekade of so later het die gesin hulle wortels gelig en na Wene, Oostenryk, verhuis, waar hulle tot 2013 gewoon het. Daarna het hulle na hulle tuisbodem in Pretoria teruggekeer. Siviwe het met haar terugkeer die Deutsche Internationale Schule bygewoon. Sy sê haar eerste taal is Engels en Duits haar tweede, terwyl Xhosa haar moedertaal is. Dit gee vir haar inderdaad ’n pragtige, subtiele aksent.  

Sy lag skamerig as iemand iets daaroor sê: “Mense vra my soms daaroor uit.”

En hulle sal aanhou vra. Die 19-jarige is vir ’n graad in Biochemie en Fisiologie op die Potchefstroomkampus van die NWU ingeskryf.  Sy is ook ’n trotse lid van die Kasteel-dameskoshuis en het haar sangtalent by die eerstejaarskonsert getoon.

“Ek het nog altyd in die menslike liggaam belanggestel. Dit is so ’n ingewikkelde en wonderlike stelsel,” verduidelik sy haar keuse van akademiese kursus.

“Ek wil graag ’n dokter of patoloog of radioloog word. Afhangend van wat in my toekoms gebeur, kan ek dalk met forensiese wetenskap verder gaan of ’n biomediese wetenskaplike word.”

Sy het drie ouer halfsusters en twee jonger sibbe, ’n suster wat in die VSA gebore is en ’n broer wat in Oostenryk gebore is. Haar twee oudste halfsusters is albei op die NWU se kampus in Mahikeng.

Siviwe volg in hulle voetstappe, hoewel op haar eie tentatiewe manier.

“Ek is eintlik ’n introvert van aard, dus vat dit my lank om aan my nuwe lewenswyse gewoond te raak. Ek bring die meeste van my tyd in my kamer deur en kyk na komediefilms soos dié met Kevin Hart en Dwayne Johnson. Die kampus is pragtig en baie groot. Ek gaan dit moet leer ontdek.”  

Wanneer balans of raad nodig is, weet sy sy kan altyd op haar pa vir perspektief staatmaak.

“My pa is ’n rolmodel. Hy was nog altyd baie loopbaangerig en hy het so baie grade, dus is ek gelukkig dat ek na hom toe kan gaan as ek raad nodig het. Hy het al baie dinge ervaar en het so veel van ’n groot verskeidenheid mense geleer. Hy is iemand op wie jy jou lewe wil skoei, maar jy wil ook jou eie mens wees,” sê sy vol liefde.  

Dan is daar die ander deel van die vergelyking: Ngeniswa Rosemary Tyobeka, haar ma.

“My ma is wonderlik. Sy is baie ondersteunend, simpatiek, oop en nie veroordelend nie, maar sy kan streng wees. Ek dink dit is deels omdat sy ’n trotse Xhosa-vrou van die Oos-Kaap is.”

Siviwe het iets van haar ma in haar, en ook ’n bietjie van haar pa. ’n Bietjie hier en ’n bietjie daar.

“Ek het meer as die helfte van my lewe oorsee deurgebring, en hoewel my paspoort en geboortesertifikaat sê dat ek Suid-Afrikaans is, is dit nie heeltemal hoe ek voel nie. Ek voel soos ’n wêreldburger.”

En, net soos daardie unieke aksent, is dit ’n perfekte kombinasie.

Bertie Jacobs

Submitted on Thu, 03/10/2022 - 12:59