Siggestremde Cornelle en haar gidshond kry graad.

Bertie Jacobs

“‘Vogue’, soos die tydskrif,” beskryf die 22-jarige Cornelle Leach haar pikswart Labradortefie se naam. Vogue, wat nou die dag geesdriftig vir haar eerste skilpad in die Botaniese Tuin geblaf het. Vyfjarige Vogue wat ʼn jong seuntjie se roomys onlangs uit sy hand gegryp en aangestap het asof niks gebeur het nie.  “Ek het net ‘ghraappp’ gehoor en daarna uitgevind wat sy gedoen het. Botter kan mos nie in haar mond smelt nie,” vertel Cornelle. Vogue, wat die afgelope drie jaar al haar gidshond is. “Ons het ʼn baie spesiale verhouding. Vogue is meer as net ʼn troeteldier vir my, sy is meer as net ʼn gidshond. Sy is my lewensmaat. Sy oefen saam met my, sy swot saam met my, sy skryf eksamen saam met my, sy gaan gradeplegtigheid toe saam met my en sy gaan ook saam met my trou.” Dáái Vogue.

Op Vrydag 1 April het hierdie twee onafskeidbare vriende saam die verhoog van die ouditorium op die Noordwes-Universiteit se kampus in Potchefstroom betree om hulle honneursgraad in Toerismebestuur te ontvang.

“Ek het besluit ek sal aanhou studeer tot ek oor daardie verhoog kan stap om my graad te ontvang. Ek is so opgewonde en ek is so dankbaar. Ek het lank vir hierdie dag gewag.”

Sy het haar eerste gradeplegtigheid weens die Covid-19-pandemie misgeloop, maar Vrydag was haar ma, Yolande, en pa, Eddie, by om te sien hoe sy op gepaste wyse vir haar harde werk beloon word.

Cornelle ly aan Stargardt se siekte, ’n degeneratiewe oogtoestand wat vroeg reeds by haar gediagnoseer is. “Ek is met sig gebore, maar dit het stelselmatig verswak. Ek het in graad 1 agtergekom ek sukkel om te sien – ek het byvoorbeeld gesukkel om reguit te knip. Ek het geen sentrale visie nie, net perifere visie. Ek kan tussen lig en donker en groot en klein onderskei, maar ek kan geen detail sien nie.”

Drie jaar gelede was haar keerpunt. “Dit was ʼn groot stap om te aanvaar dat ek gestremd is en dat ek ʼn gidshond nodig het. Ek is só spyt ek het nie die besluit vroeër geneem nie. Ek was ʼn kluisenaar, ek het in mense vasgeloop. Ek het nie winkels toe gegaan nie, ek kon nie alleen op kampus loop nie. Vogue het my lewe verander, sy het soveel deure vir my oopgemaak. Sy het my selfbeeld verbeter. Ek kon self gim toe gaan, ek kon self klas toe gaan. Skielik was ek mobiel. En kyk net waar is ek nou. Sy het elke klas saam met my bygewoon. Dit is danksy haar dat ek hier is.”

Cornelle is tans besig om haar meestersgraad in Toerisme by die NWU te voltooi, waar sy gaan poog om ʼn model vir toerismebestemmings te ontwerp wat hulle akkommodasie en geriewe meer toeganklik vir mense met gestremdhede sal maak.

“Ek wil ook my doktorsgraad doen en in die akademie bly. Ek wil graag ʼn dosent word. Ek geniet die navorsing ongelooflik baie.”

En Vogue, wat gaan sy met haar kwalifikasie doen?

Sy lag: “Vogue gaan waarskynlik ʼn toerismebestemming vir honde êrens oopmaak, alle moontlike geleenthede ondersoek en aan alles ruik waaraan sy wil!”

Benewens haar akademiese prestasies is Cornelle ook ʼn begaafde swemmer wat met ʼn rits Suid-Afrikaanse rekords agter haar naam spog. Vanjaar neem sy aan die Wêreldkampioenskap vir gestremdes in Portugal deel en dan is die Statebondspele haar mikpunt.

Al die pad kop bo water en gemotiveerd. Dit is ook haar boodskap vir elkeen wat voel hulle gestremdheid is ʼn onoorkombare struikelblok: “Hou net aan glo in jouself. ʼn Gestremdheid beteken nie dat jy nie iets kan bereik nie, dit gee jou net meer rede om dit te bereik. Jy is tot meer in staat as wat jy dink.”

Video:Cornelle en Vogue kry graad. 

....

Cornelle saam met haar ma Yolande, haar pa Eddie en haar mede-gradueerde, Vogue.

 

Submitted on Fri, 04/08/2022 - 11:02