Sharks-legende Botes in NWU-kamp

Sharks-legende Jacques Botes is as deel van Burger van der Westhuizen se afrigtingspersoneel vir die naderende klubrugbykompetisies gekontrakteer, wat – in die lig van sy uitgebreide ervaring – waarskynlik ’n baie slim aanstelling is.

Die voorsienigheid was goed vir Suid-Afrika se losvoorspelers in die eerste twee dekades van die 21ste eeu, maar die teenoorgestelde geld vir Botes se loopbaan.

Geseën met spoed, intuïsie en ’n onuitputlike werkywer, was Botes ’n instelling by Kings Park, waar hy die Sharks 115 keer (135 punte) in Super Rugby en ’n rekordgetal van 135 keer in die Curriebeker (247 punte) verteenwoordig het. Tussen 2005 en 2014 was dit ’n algemene gesig om vir Botes in Durban te sien waar hy oop en toe doellyn toe nael om nog ’n drie aan te teken. Het hy in ’n ander era of in ’n ander land gespeel, sou hy ongetwyfeld ’n paar internasionale wedstryde onder sy blad gehad het.

Dié geluk was egter nie vir hierdie matrikulant van die Potchefstroom Gimnasium beskore nie. Sy loopbaan het ongelukkig saamgeval met dié van – onder talle ander – Schalk Burger, Juan Smith, Pierre Spies, Pedrie Wannenburg, Danie Rossouw, Heinrich Brüssow en Wikus van Heerden.

Dit was ook ’n tyd toe ’n indrukwekkende fisieke teenwoordigheid vir ons nasionale afrigters ’n voorvereiste was. Ten spyte van al sy talente het Botes nie die brute grootte van talle van sy tydgenote gehad nie. Die naaste wat hy aan nasionale kleure gekom het, was toe hy in 2009 die Opkomende Springbokke teen die toerspan van die Britse en Ierse leeus verteenwoordig het. Sy laaste wedstryd was in November 2014 vir die Barbarians teen die Engelse span Leicester, toe hy in sy perfekte swanesang ’n drie gedruk en ’n doelskop oorgesit het.  Die Barbarians het met 59–26 gewen.

Botes was ook ’n groot gevaar by die afbreekpunte en dit is op hierdie gebied wat hierdie 40-jarige sy kundigheid met van die NWU se elite-spelers gaan deel.

........

Jacques Botes

Submitted on Mon, 05/10/2021 - 10:00