Shannon palm die 2017 Vrou van Statuur-toekenning in

Die wenner stap met die louere weg! Shannon Roscher (25), alumna van die Noordwes-Universiteit (NWU) het hierdie naweek die toekenning vir die 2017 Vrou van Statuur: Jeugambassadeur ontvang tydens ’n glansryke seremonie wat by die Emperors Palace in Johannesburg gehou is.

Op Saterdag 11 Maart het dertig van Suid-Afrika se prominentste vroue om een van die agt uiters gesogte toekennings meegeding. Shannon, wat in 2013 haar BA-graad in Kommunikasiekunde en Sielkunde behaal het, het in die Jeugambassadeur-kategorie deelgeneem. Hierdie jaarlikse Vrou van die Jaar-toekennings is nie beperk tot enige bepaalde veld of projek nie, en daarom is dit een van die mees gesogte toekennings vir vroue in Suid-Afrika. Die doel van die Vrou van Statuur, wat in April 2013 bekend gestel is, is om vroue uit al die vlakke van die samelewing te inspireer en te bemagtig, asook om deur verskeie projekte en fondsinsamelingsinisiatiewe ’n bewustheid vir liefdadigheidsorganisasies te kweek en broodnodige fondse in te samel.

Shannon sê: “Om die wêreld te verander, lyk vir almal soos dagdromery, maar vir my is dit nie ’n droom nie; ek sal my nalatenskap agterlaat en hierdie wêreld ’n beter plek maak omdat almal hulle eie stukkie hemel op aarde verdien.” Sy moedig ook ander jongmense aan om hulle drome na te jaag. “Ek weet dit is ’n angswekkende ervaring om iets te begin, veral wanneer jy nie ’n voltydse werk het nie, maar druk deur, aangesien dit op die ou einde die mooiste en lonendste ervaring is wat jy ooit kan hê.”

’n Passie vir kinders en die onderwys

Shannon is die medestigter en besturende direkteur van DeskBags, ’n niewinsgewende organisasie wat funksionele, ekovriendelike skoolsakke vervaardig wat ook ’n oplossing as draagbare lessenaars bied. Sy is ’n dinamiese persoon met ’n passie vir kinders en die onderwys.

“Dit gee vir my groot plesier om te weet dat DeskBags ’n merkbare verskil maak in die lewens van ’n geskatte 3,1 miljoen leerders in Suid-Afrika wat nie behoorlike skoolbanke het nie. Ek glo vas dat onderwys die buffer teen armoede is,” sê Shannon, en voeg by dat erkenning ook aan korporatiewe Suid-Afrika gegee moet word vir die hulp om ’n volhoubare verskil in die lewens van toekomstige leiers te maak.

’n DeskBag is ’n tweedoelige sak wat ’n ten volle dien as skoolsak wat kan oopvou om ’n draagbare lessenaar te vorm wat leerders by die skool en die huis kan gebruik. Die sakke is waterdig, weerkaatsend, en lig genoeg dat ’n preprimêre leerder dit kan gebruik. Dit word voorts van 100 persent herwinbare reklamebordmateriaal gemaak. DeskBags word met behulp van korporatiewe borgskappe gratis aan behoeftige skole verskaf.

Hoe dit alles begin het

Shannon sê dat sy die idee gekry het om DeskBags te ontwikkel toe sy saam met haar ma, Madelain Roscher, ’n informele nedersetting besoek het om liefdadigheidswerk te doen. “Ons het gesien hoe hierdie kinders met ’n plastieksak en saamgeflansde lessenaar, soos ’n roomysbak of stuk karton, rondloop,” verduidelik Shannon. Hierdie tonele het haar en haar ma aan die dink gesit oor hoe hulle hierdie leerders kan help en moontlik ’n positiewe verskil aan hulle skoolervaring kan maak. Volgens Shannon het die DeskBags daardie dag die lewenslig aanskou.

Daar is soveel as 95 miljoen skoolgaande kinders in Afrika wat nie die voorreg het om by ’n lessenaar te sit en werk nie. In Suid-Afrika is die statistiek net so onrusbarend, met meer as 3,1 miljoen leerders wat die grond as skryfoppervlak moet gebruik deur op die grond te kniel of te sit en te probeer om op hulle skote te skryf, wat beteken dat hulle moeg, ongemaklik en vuil is terwyl hulle probeer om te leer. Die ongemak en frustrasie wat hulle as gevolg daarvan beleef, is enorme struikelblokke vir daardie kinders ten opsigte van die opvoedkundige doelwitte wat hulle wil bereik, wat noodsaaklik is om hulle uit die armoedesiklus te bevry.

“Hoewel dit ideaal sou wees om gestruktureerde klaskamers te bou en genoeg lessenaars en stoele te verskaf, kos dit bloot te veel, en sal dit beduidende logistieke en organisatoriese insette van die regering sowel as die privaat sektor verg,” sê Shannon, en voeg by dat DeskBags ’n veeldoelige oplossing bied – dit is nie net goedkoop om te produseer nie, maar ook maklik om te gebruik. Ander byvoordele sluit in:

  • Werkskepping

DeskBags word uitsluitlik vervaardig deur voorheen-benadeelde vroue wat óf gestremd is, óf werkloos was, en in talle gevalle die slagoffers van geweld was.

  • Omgewingsvriendelik

DeskBags is ekovriendelik en uiters bekostigbaar. Die produk word van herwonne vinielreklameborde gemaak, wat giftige PVC-materiale uit stortingsterreine hou en omgewingsvolhoubaarheid en ’n kleiner koolstofvoetspoor verseker.

  • Korporatiewe ondersteuning

Deur die ondersteuning van die korporatiewe wêreld en in samewerking met die Departement van Onderwys (DvO) word DeskBags na armoedegeteisterde gebiede gestuur.

* Tot vandag toe het 100 000 kinders by die DeskBags gebaat.

Shannon Roscher, alumna van die NWU Vaal, het die toekenning vir die 2017 Vrou van Statuur: Jeugambassadeur ontvang. Sy is die medestigter en besturende direkteur van DeskBags, ’n niewinsgewende organisasie wat funksionele, ekovriendelike skoolsakke vervaardig wat ook ’n oplossing as draagbare lessenaars bied.

Submitted on Mon, 04/03/2017 - 11:27