Sesde Nasionale Outismesimposium

In net meer as twee weke gaan die Sentrum vir Gesondheid en Menslike Prestasie (CHHP) by die Noordwes-Universiteit (NWU), saam met Outisme Suid-Afrika (A; SA) hulle sesde Nasionale Outismesimposium aanbied. Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Kinder- en Adolessente Psigiatrie en Verwante Beroepe gaan weer eens hierdie jaar as ondersteunende vennoot optree. Die jaarlikse simposium het tot ’n unieke platform ontwikkel wat akademici en professionele persone wat met outisme werk, byeenbring en gee aan mense op die outismespektrum en hulle gesinne die geleentheid om hulle ervarings te deel.

Hierdie jaar se simposium sal vanaf 2 tot 4 September aanlyn plaasvind. Dit sal aan gesinne, ouers, mediese personeel, maatskaplike werkers en werknemers wat by kinders en volwassenes op die outismespektrum betrokke is, ondersteuning bied.  

Gaan terug na die basiese dinge om met uitnemendheid vorentoe te gaan

Die Covid-19-pandemie het vir talle noodsaaklike dienste vir outiste en hulle gesinne ontwrigting veroorsaak.  Gedurende 2020 het onsekerheid en inkonsekwentheid emosionele disregulering veroorsaak vir almal wat geraak word, en vir diegene wat op die gebied van geestesgesondheid, neuro-ontwikkelingsversteurings en sosiale gesondheid navorsing doen of daar werk. Die onstuimigheid het hierdie jaar effens tot bedaring gekom, en almal kan ’n treetjie terugstaan om te evalueer wat steeds doeltreffend is en wat in ons lewens moet verander. Juliet Carter (direkteur van Outisme Suid-Afrika) sê dat daar, verrassend genoeg, talle positiewe dinge na vore gekom het.   Daar is egter nog steeds swak punte in dienste regoor die land. Dit is noodsaaklik om ons ervarings te deel en uit ons foute te leer.

“Twee dinge wat ons uit die simposiums geleer het, is eerstens dat mense wat met outisme leef die werklike kundiges is en dat hulle bydrae waardevol is om ’n positiewe ingesteldheid tot neurodiversiteit te bevorder,” sê Hanlie Degenaar, ’n spraak-taal-terapeut by die CHHP. “Tweedens is gesonde gesinne noodsaaklik om teëspoed te kan hanteer en van terugslae te herstel.” Die program vir hierdie jaar se simposium is dus noukeurig saamgestel om die inligting deur te gee wat ouers, gesinne, en mense met outisme nodig het. Dit is duidelik dat almal noulettende aandag moet verleen aan die basiese dinge om ondersteuning vir neurodiverse persone te verleen en die beste manier moet vind om saam te werk om in die toekoms uitnemendheid te bereik. 

Hierdie simposium is ’n gebeurtenis vir almal en is anders as alle ander konferensies. Die uitgangspunt vir die aanbieding van hierdie unieke platform is die woorde van Melt Olckers, ’n outistiese volwassene, wat by ’n vorige simposium gesê het “Net soos mense met outisme na professionele persone moet luister, moet hulle op hulle beurt ook na mense met outisme luister.  Ons moet dus ’n simbiotiese verhouding hê.  ’n Verhouding wat wedersyds is.  Ons kan hulle iets oor ons leer, en op hulle beurt kan hulle vir ons die vaardighede aanleer wat ons nodig het.” Die organiseerders streef daarna om diverse kennis en ervarings met eerlikheid en aanvaarding te deel. Emile Gouws, een van die outistiese bywoners van verlede jaar se geleentheid, sê dat elke spreker op hulle eie unieke manier ’n bydrae gelewer het en waarde toegevoeg het tot die uitbreiding van die kennis van mense wat daagliks met outisme te doen het.

Gesinne met neurodiverse lede is aanpasbaar. Hulle het geleer om hulle verwagtings aan te pas en hulle vrese en vervreemding in die gesig te staar. Hulle is geoefen om deur te druk, vorentoe te beweeg en kreatiewe oplossings te vind.   Bowenal het hulle geleer om hulle vordering en suksesse te vier.  Robert Naseef, sielkundige en pa van ’n outistiese seun, het geskryf dat die dinge wat vir outistiese mense tuis, by die werk en skool tot voordeel sal wees, en dat alle ander mense ook daarby sal baat. Ons moet by hierdie jaar se gebeurtenis vier wat ons by hierdie gesinne kan leer en die swakhede verbeter in die ondersteuning wat ons aan hulle kan verskaf.

Die organiseerders het ook aandag gegee aan versoeke vir praktiese werkswinkels oor die ontwikkeling van aanpasbaarheid, emosionele regulering vir diegene wat nie praat nie, aan spel, die regulering van gedrag, kommunikasie met Makaton, en hoe om kwessies met toiletgebruik en eetgewoontes te bestuur.

Meer inligting oor die gebeurtenis is beskikbaar by https://sites.google.com/g.nwu.ac.za/nationalautismsymposium/home.

Interessante feite oor outisme

Outisme is nie ’n seldsame toestand nie – die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer en voorkoming (CDC) beraam dat ongeveer 1 uit 59 kinders op die outismespektrum geïdentifiseer word.

Dit is ongeveer vier keer meer algemeen onder seuns as onder meisies. Daarbenewens bevind navorsers dat meisies se simptome kan wissel van dié wat by seuns aangetref word, wat lei tot ’n diagnose wat eers later gemaak word.

Outisme kan reeds op ’n ouderdom van twee jaar betroubaar gemaak word, en talle ouers sal voor die kind se eerste verjaarsdag reeds bekommernisse aanmeld. Die meeste kinders word egter steeds eers ná die ouderdom van vier jaar gediagnoseer.

Elke kind met outisme is uniek. Mense met outisme verskil dus net soveel van mekaar as wat alle ander mense verskil.

Navorsing het getoon dat amper tweederdes van kinders met outisme tussen 6 en 15 jaar geboelie word.

Mense op die outismespektrum leef dikwels in die oomblik, oordeel gewoonlik nie ander mense nie, en is werklik passievol oor hulle belangstellings.

Gesinne van kinders op die outismespektrum beskryf dikwels die geweldige positiewe impak – natuurlik saam met al die uitdagings – wat iemand met outisme in die gesin op hulle persepsies en oortuigings het. In plaas daarvan om al die reëls van die moderne samelewing oor “moets en moenies” slaafs na te volg, waardeer hulle elke klein prestasie en leef in die oomblik.  

’n Diagnose van outisme hou ook verband met ’n verhoogde risiko dat geestesgesondheidsprobleme teenwoordig sal wees, byvoorbeeld 10 tot 40% van kinders op die outisme ly ook aan angstigheid.

Hoewel daar navorsing gedoen word oor nuwe behandelings vir outisme, is daar nog geen medikasie geïdentifiseer wat die kernprobleem van outisme behandel nie. Medikasie kan egter gebruik word om toestande wat met outisme verband hou, soos angs, te behandel.

Dis nie moeilik om ’n persoon met outisme te leer ken nie – gee hulle ’n bietjie ekstra tyd om tydens gesprekke te reageer en geniet hulle ander uitkyk op die lewe.    

Submitted on Tue, 08/31/2021 - 08:16