'Serious game' kan statistiekkopseer verlig

Wanneer dit by die leer en begrip van statistiek kom, beskou talle studente die vak as ’n afskrikwekkende uitdaging wat hulle nie net gedemotiveer laat nie, maar ook gefrustreerd –soms selfs voordat hulle met die module op universiteit begin.

Toe die akademiese ondersteuningsdepartemente van die Noordwes-Universiteit (NWU) se kampus in Vanderbijlpark begin het om die uitdagendste modules vir voorgraadse studente te identifiseer, het dit spoedig duidelik geword dat statistiek ’n groot uitdaging vir studente is – veral in hulle eerste jaar van studie. Dit was duidelik dat hierdie kwessie op ’n proaktiewe en kreatiewe manier opgelos moet word.

Die span van Serious Games: South Africa (SGI:SA) - onder die navorsingsambreel van Tegnologie-bevorderende Leer en Innoverende Onderwys en Opleiding in Suid-Afrika (TELIT-SA) - het die uitdaging aanvaar en ’n benadering van serious games (spele vir leer) voorgestel. Die gevolg? ’n Studentegesentreerde serious game wat gepas Thabang’s Statventure genoem word en ontwikkel is om studente te motiveer om die statistiek-kursusmateriaal aan te pak.

Die proses wat gevolg is: van navorsingsartikel tot rekenaarprogrammering

In SGI-SA se poging om die probleme te oorkom wat deur eerstejaarstudente ervaar word, is ’n studie onderneem om die belangrikste kwelpunte te identifiseer:

  • Studente het ’n negatiewe houding teenoor die betrokke module.
  • Studente wat vir die vaste kursus ingeskryf is, is van uiteenlopende vakdissiplines.
  • Daar word te min tyd toegelaat om die statistiese tegnieke te bemeester.
  • Daar is ’n waargenome gebrek aan praktiese toepassings om die konsepte te verduidelik.
  • Daar is tydsbeperkings.
  • Daar is beperkte gebruik van tegnologie – veral ten opsigte van alternatiewe onderrig- en leermetodes.

 

Die SGI-SA-span met die taak om Thabang’s Statventure te ontwikkel was: prof Seugnet Blignaut (TELIT-SA koördineerder en toesighouer), dr Verona Leendertz (projekbestuurder en inhoudkundige), mnr Japie Greeff (hoofprogrammeerder), mnr Lance Bunt (hoofontwikkelaar, kuns en animasie), mnr Mogomotsi Serake (programmeerder), mnr Modisane Seitshiro (inhoudkundige) en me Irma Myburgh (grafiese kunstenaar en administrasie).  

Volgens Lance het die studie aangedui dat fakulteitslede op die kampus in Vanderbijlpark oor die algemeen baie gretig en gewillig was om tegnologie te omarm as instrument om onderrig en leer deur interaksie en samewerking van studente te bevorder. Die uitdaging was dat akademiese personeel wat Statistiek onderrig, gesukkel het om ’n optimale mengsel van instrumente (insluitende tegnologie) te kry om hulle studente doeltreffend te ondersteun.   

Na intensiewe konsultasie en onderhoude met fakulteitslede het SGI-SA die groen lig gekry om voort te gaan met die ontwikkeling van ’n speletjiegebaseerde oplossing vir die probleem.

“Uit die onderhoude wat ons gehou het, het dit duidelik geword dat talle studente regdeur die inleidende Statistiek-kursus met statistiese konsepte gesukkel het.  Kwessies soos tydsbeperkings, uiteenlopende houdings van die studente, lae motiveringsvlakke en onvoldoende vaardighede het daartoe bygedra dat studente vroeg reeds in die kursus agter geraak het sonder enige hoop om werk in te haal,” verduidelik Lance.

Die inbring van ’n serious game vroeg in die kursus sal voordele inhou ten opsigte van verbeterde motiveringsvlakke, ’n toename in vaardigheidsontwikkeling en ’n belyning van die student se kennis met die stel statistiese raamwerke.

Dr Verona Leendertz Mnr Lance Bunt

 

Submitted on Tue, 08/29/2017 - 11:16