Sentrum vir Waterwetenskap en Bestuur beskerm ons uiters waardevolle hulpbron

Om oppervlak- en grondwater teen mynaktiwiteite te beskerm, is noodsaaklik om ons ekostelsels, openbare gesondheid en volhoubare waterhulpbronne te beveilig. Dit is waarom die Sentrum vir Waterwetenskap en Bestuur (CWSM) by die Noordwes-Universiteit (NWU) en sy gespesialiseerde span navorsers uiters waardevolle werk doen om ons onontbeerlike hulpbron te beskerm.

Die CWSM fokus op gekontrakteerde navorsing, hoofsaaklik in die mynbedryf, met hulle grootste voltooide mynverwante projek wat die modellering van die hele Oos-Randse kom is. Dit is in samewerking met die Duitse maatskappy DMT gedoen.

“Ons doel is om vrae soos die volgende te beantwoord: ‘Wat is die verwagte ontwateringsvolumes wat met ’n nuwe of bestaande myn verband hou?’, en ‘Wanneer die mynbedrywighede ophou, wat is die verwagte afgietvolume, asook die verwagte watergehalte?’ Interne modelontwikkeling en sagteware-ontwikkeling word ook binne die CWSM gedoen, en sluit alle sagtewareweergawes van die grondwaterhulpbrongerigte maatreëls (Groundwater Resource Directed Measures, GRDM) en die instandhouding van ’n sagtewarepakket genaamd Aquiworx in, wat die monitering van oppervlak- en grondwaterterreine ondersteun,” verduidelik Rainier Dennis, ’n senior lektor wat by die CWSM geaffilieer is.

Die NWU is daartoe verbind om die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s) te help bereik. Hier speel die CWSM ’n integrale rol, veral as SDG 6 (Skoon water en sanitasie), asook SDG 15 (Lewe op land) in ag geneem word. Hierdie SDG’s behels gesamentlik dat volhoubare waterbestuur asook die beskerming, herstel en bevordering van die volhoubare gebruik van ons ekostelsels en biodiversiteit verseker word.

“Die modellering van mynverwante impak op oppervlak- sowel as grondwater is ons vernaamste fokus. Ons het ook ’n sterk fokus op die lewering van funksionele studente, en werklike konsultasiewerk in ons bedryf word bespreek en die metodes word in ons kursusse onderrig. Mense vanuit die bedryf word elke jaar uitgenooi om die projekte van die honneursgraadstudente te evalueer en talle van ons studente word in diens geneem wanneer hulle hulle studies voltooi het,” sê Dennis.

Suid-Afrika ervaar ’n groot aantal dringende waterverwante kwessies, en om kundigheid te lewer wat hierdie probleme kan aanpak, is van die uiterste belang.

“Mynverwante gevolge betrek reuse soos Eskom en Sasol, aangesien hulle van die myne afhanklik is. Die impak wat hulle en ander op ons riviere het, is baie duidelik. Daar is ook nog swak dienslewering van munisipaliteite, en onvoldoende infrastruktuur wat nie doeltreffende waterbehandeling kan verskaf nie. Meer as 60% van die mense in Suid-Afrika – veral in die landelike gebiede – maak op grondwater staat en ons moet daardie water beskerm. Dreineervelde wat ontwikkel word, word nie behoorlik bestuur nie en dit lei daartoe dat dit misluk. Daar is ook die kwessie van die toekomstige impak van klimaatsverandering op ons waterhulpbronne om te oorweeg.”

Volgens Dennis is een van die fokusareas van die CWSM om die impak van mynbou op die omgewing vas te stel. Dit word gedoen deur na die beste maniere te kyk om hierdie gevolge te modelleer en te voorspel: “Die volhoubaarheid van ons grondwatervoorraad kom in die meeste van die modelle voor wat ons ontwikkel, en dit is tans die onderwerp van die navorsing van een van ons MSc-studente. Van die sagteware wat ontwikkel word, soos die GRDM, het instrumente wat ingebou is om spesifiek te help om die boorgatvelde te bestuur. Indien hierdie instrumente nie gebruik word deur die mense wat die boorgatvelde bestuur nie, kan die watervoorraad ongelukkig faal, soos ons baie dikwels sien.”

’n Gebrek aan dienslewering in kritieke areas en ’n gebrek aan aanspreeklikheid is maar net ’n paar van die struikelblokke wat doeltreffende waterbestuur in die land aan bande lê, maar dit sal nie die CWSM of die NWU daarvan afskrik om voort te gaan om goeie navorsing te lewer wat ’n verskil kan maak nie.

....

Rainier Dennis

 

Submitted on Thu, 10/12/2023 - 12:30