Seminaar van die BRICS Network-universiteit ondersoek dringende uitdagings

Klimaatsverandering, toegang tot tegnologie, energie en sosio-ekonomiese struikelblokke is maar net ’n paar van die kritieke uitdagings wat die mensdom tans in die gesig staar. Afgevaardigdes van die BRICS*-nasies het persoonlik en virtueel by die 2023-seminaar van die BRICS Network-universiteit opgedaag om vennootskappe te vestig en deur samewerking en die deel van kundigheid oplossings vir gedeelde probleme te kry.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) was van 5 tot 6 Julie die gasheer van die seminaar op die NWU se Potchefstroomkampus. Die BRICS Network-universiteit is ’n gesamentlike opvoedkundige projek om akademiese en navorsingsamewerking regoor die BRICS-lande aan te moedig. Die titel van hierdie jaar se seminaar was Mobilising Global Knowledge and Research Networks for Inclusive and Sustainable Development. Die seminaar het ’n platform gebied vir afgevaardigdes om saam te werk en die moontlikhede van navorsing en kennis te ondersoek om inklusiewe en volhoubare ontwikkeling te bevorder.

Die NWU se adjunk-visekanselier vir Beplanning en Vanderbijlparkkampusbedrywighede, prof Linda du Plessis, het die afgevaardigdes verwelkom. Sy het gesê kennis was nog altyd die vernaamste dryfveer van vooruitgang. “Deur ons kollektiewe kundigheid te mobiliseer om uitdagings te hanteer, kan ons volhoubare oplossings vind en inklusiwiteit skep. Die NWU kan, saam met sy vennote, kan deur samewerking, netwerking en vennootskappevoldoende intellektuele gewig skep om ’n verskil op ’n wêreldwye skaal te maak.” Sy het gesê die seminaar was ’n geleentheid om die uitdagings aan te pak wat die mensdom in die gesig staar.

Dr Marcia Socikwa, adjunk-direkteur-generaal van Universiteitsopleiding in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, sê die ontstaan van die BRICS Network-universiteit is ’n belowende ontwikkeling vir BRICS-lande om ’n kennisstelsel te skep en te bevorder wat die behoeftes en aspirasies van die nasies kan hanteer.

Sy sê geen enkele kennisstelsel kan werklik die kompleksiteit en totaliteit van die menslike ervaring verteenwoordig en weerspieël nie. “Die mensdom is beter af wanneer dit verskillende kennisbronne en vakkundige tradisies gebruik om ons lewens te verryk. Die doel van universiteitsamewerkings in die 21ste eeu moet wees om kennisontwikkeling en navorsing te bevorder wat deur deurleefde ervarings en epistemologiese bekommernisse bevorder word. Die BRICS-netwerk is goed geplaas om die leiding daarmee te neem. Aangesien dit universiteite van die vyf BRICS-lande met uiteenlopende geskiedenisse en kulture verteenwoordig, staan dit ’n wonderlike kans om ’n werklik wêreldwye spilpunt van kennis te wees.”

Dr Nkosinathi Sushi, direkteur-generaal van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, sê dat dit belangrik vir hoër onderwys is om ’n verskeidenheid en uiteenlopendheid van stemme regoor alle instellings te hê. “Ons moet verseker dat daar nuwe kennisstelsels is, navorsingsagendas deel en samewerkings ontwikkel. Dit sal ’n groter impak hê om die gaping te help verklein tussen universiteite wat oor die afgelope jare voordeel uit beter finansiële ondersteuning getrek het en dié wat oor vele jare agtergelaat is. Dit is ’n geleentheid om netwerke tussen universiteite regoor die BRICS-lande te verbeter.” Hy sê die seminaar was ook ’n opbou tot die BRICS-beraad wat geskeduleer is om later in die jaar plaas te vind. “Ons is besig om insette vir advies aan die leiers voor te berei.”

Koördineerders van die ses internasionale tematiese groepe (ITG’s), wat die dryfveer agter die kennisprojek van die BRICS Network-universiteit is, het oor aktiwiteite, projekte en inisiatiewe tydens die seminaar gerapporteer. Die ITG’s is: Rekenaarwetenskap en Inligtingsekuriteit; Ekologie en Klimaatsverandering; Ekonomie; Energie; BRICS-studies; en Waterhulpbronne en die Behandeling van Besoedeling. Om ’n video van die geleentheid te sien, besoek: https://youtu.be/jns6TvgvIoY.

*BRICS is ’n akroniem wat die verskillende wêreldwye vennootskappe tussen Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika aandui.

BRICS

Prof Linda du Plessis, die NWU se visehoof en adjunk-visekanselier vir Beplanning en Vanderbijlparkbedrywighede, dr Nkosinathi Sushi, direkteur-generaal van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, en dr Marcia Socikwa, adjunk-direkteur-generaal van Universiteitsopleiding in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding.

Submitted on Thu, 07/06/2023 - 16:21