Selfbestuurmotors, vinnige kommunikasie en slimstede benodig gevorderde draadlose netwerke om te kan werk

Kunsmatige intelligensie (KI) het kommunikasiestelsels in die hedendaagse moderne wêreld beduidend verander. Die integrasie van KI by verskillende kommunikasiestelsels sal waarskynlik tot meer gevorderde vermoëns en die uitvinding van nuwe toepassings lei – outonome voertuie, buitengewoon vinnige kommunikasiespoed en slimstede gaan deur ’n mens se gedagtes.

Aldrin Ngorima, ’n PhD-student by die Skool vir Elektriese, Elektroniese en Rekenaaringenieurswese, is deel van die MUST Diepleer- en die Telenet-navorsingsgroep in die Noordwes-Universiteit (NWU) se Fakulteit Ingenieurswese. Sy navorsing fokus op die toepassing van KI op die gebied van telekommunikasie, veral op datatransmissiemetodes en die gebruik van diepleer vir toekomstige netwerke.  

Diepleer behels die onttrekking van hoëvlakkenmerke uit data deur masjienleer te gebruik wat op kunsmatige neurale netwerke berus.

Dit kan help om die beperkings van huidige metodes op te los. Sommige klassieke algoritmes wat by telekommunikasie gebruik word, is onder sekere omstandighede onbruikbaar, en het meer presiese programmering en koderingstoepassings vir kommunikasiestelsels nodig.

’n Voorbeeld daarvan is die volgende geslag hoëspoedtelekommunikasie, 6G-netwerke, wat op papier supervinnig is. “Om daardie spoed te ervaar, het ons draadlose kommunikasiestelsels nodig wat aan die standaard van daardie spoed sal voldoen,” sê Aldrin. 

Die gebied van telekommunikasie trek voordeel uit gevorderde diepleermodelle wat meer akkuraat is en wat ’n beter prestasie lewer. “Dit is van belang vir baie telekommunikasietoepassings soos outonome bestuur, mobiele kommunikasie en slimstede, waar kragtige en betroubare draadlose netwerke noodsaaklik is.”

Diepleer, groot datastelle

Hy verduidelik dat in die diepleerdomein sukses dikwels van die beskikbaarheid van groot datastelle afhang. “Deur komplekse omgewings te simuleer, kan ek KI toepas en met verskillende diepleermodelle eksperimenteer, en hulle optimaliseer om die beste aanpassing tussen prestasie en berekening te verkry.”

Terwyl die meeste van sy navorsing op die simulering van bestaande en realistiese kommunikasiekanale konsentreer, ontwikkel Aldrin gevorderde draadlose kommunikasiestelsels wat vir talle toepassings geskik is. 

“My hoofdoel is om betroubare kommunikasiestelsels te ontwikkel wat uitvindings in die infrastruktuursektor sal bevorder,” sê hy.  

As deel van sy PhD simuleer Aldrin ’n voertuigkommunikasiekanaal wat bestaan uit voertuie wat teen 200 km per uur in verskillende rigtings beweeg. Hy volg die spesifikasies van die navorser Guillermo Acosta-Marum en sy span van die Georgia Instituut van Tegnologie in die Verenigde State. 

Aldrin se gevolgtrekking uit sy eie navorsing is dat gevorderde Wi-Fi-standaarde ontwikkel moet word om aan die vereistes van voertuigkommunikasiestelsels te voldoen en met die snelontwikkelende digitale landskap by te bly. 

Oor die navorser

Aldrin Ngorima is ’n diepleerspesialis vir die toekoms met ’n meestersgraad in Rekenaar- en Elektroniese Ingenieurswese van die NWU. Sy meestersgraadverhandeling het die ontwikkeling behels van ’n masjienleer-plantgroeiberamer vir hidroponika. 

Hy is ook die medeskrywer van ’n boek met die titel Artificial Intelligence Research. Die hoofstuk waarvan Aldrin die medeskrywer was, is "Sequence-Based Deep Neural Networks for channel estimation in vehicular communication systems".

Aldrin Ngorima

Submitted on Wed, 07/31/2024 - 12:23