Seksisme en seksuele teistering is groot uitdagings vir vroue-entrepreneurs

Hoewel entrepreneurskap sy eie uitdagings het, ervaar vroue ’n bykomende klompie struikelblokke wat uniek aan hulle is. Op papier het Suid-Afrika wonderlike geleenthede vir vroulike entrepreneurs, maar in werklikheid affekteer talle ekonomiese, maatskaplike en kulturele struikelblokke vroue en hulle ondernemings.

Volgens ’n studie wat Refiloe Moetsi, ’n MBA-gegradueerde van die Noordwes-Universiteit (NWU), uitgevoer het, is seksisme, seksuele teistering, huwelikskomplikasies, probleme met eiewaarde en ’n gebrek aan sakekennis van die probleme wat vroue ervaar.

Haar studie, getiteld “Exploring the unique challenges facing women entrepreneurs in Gauteng”, is in 2020 onder die studieleiding van prof Stephan van der Merwe, programleier vir bestuursopleiding by die NWU Besigheidskool, voltooi. 

’n Uitdagende reis

Refiloe het as deel van haar studie die unieke uitdagings ondersoek wat sewe sakevroue ervaar.

Volgens die deelnemers is twee van die vernederendste uitdagings seksisme en seksuele teistering. Die deelnemers het mense ontmoet wat glo dat vroue hulle pad boontoe moet oopslaap, of as hulle reeds suksesvol is, dat hulle wel hulle pad boontoe oopgeslaap het.

Die studie het bevind dat vroue geleenthede ontsê word om hulle vermoëns te toon, en dat hulle harder moet werk as hulle manlike eweknieë om hulle bevoegdheid te bewys. Die deelnemers het gesê dat hulle dikwels blootgestel word aan die persepsie dat vroue aan mans ondergeskik is.

Daar is ook gevind dat vroulike entrepreneurs nie ernstig opgeneem word nie, en nie genoegsame ondersteuning van hulle gesinne, huweliksmaats en manlike eweknieë ontvang nie. Komplikasies in die huwelik het vroue laat voel dat hulle alles alleen moet doen. Een deelnemer het gesê haar man werk nie, dus is daar geen finansiële ondersteuning van sy kant af nie, en hy doen ook nie sy deel nie.

Inspireer die gemeenskap

Hoewel die studie die unieke uitdagings wou beklemtoon wat vroulike entrepreneurs ervaar, sê Refiloe dat daar ’n paar positiewe aspekte van vroulike entrepreneurskap ontdek is.

Die meeste mense glo dat hulle beleggers of baie geld moet hê om hulle ondernemings te begin. Die studie het egter gevind dat die deelnemers nie so baie befondsing nodig gehad het nie, aangesien die meeste van hulle hul salarisse gebruik het om hulle ondernemings te begin. Nog ’n bevinding was dat vroue die sukses van hulle ondernemings toegeskryf het aan hulle selfmotivering en entoesiasme om hulle doel te bereik.

Van die deelnemers het aangedui dat, as gevolg van kodes vir swart ekonomiese bemagtiging en die voorkeur vir swart vroue, daar vir hulle baie regeringsgeleenthede is.

Refiloe hoop dat hierdie studie lede van die gemeenskap wat ’n aanleg vir entrepreneurskap het, sal inspireer om ingeligte besluite te neem, en hulle sal motiveer om hulle eie sakeprojekte te begin.

Sy sê alhoewel daar reeds navorsing gedoen is oor die uitdagings wat vroulike entrepreneurs ervaar, moet verdere studie oor die oplossing vir hierdie probleme uitgevoer word.

Refiloe Moetsi

Refiloe Moetsi.

Submitted on Fri, 10/22/2021 - 13:00