Samewerking tussen NWU en Vanderbijlpark Rotariërs gee wiskunde-onderwys ’n hupstoot

STEM, of wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde, is nie bloot ’n lys van belangrike vakke nie, maar eerder ’n kruisdissiplinêre opvoedkundig-integrerende filosofie.

 Hierdie filosofie sal nie net studente in die 21ste-eeuse wêreldekonomie mededingend maak nie, maar sal ook geweldig tot die volhoubare ekonomiese ontwikkeling van die land bydra.

Met hierdie in gedagte, en met ’n onwrikbare verbintenis om die samelewing deur middel van kennis te bevoordeel, gaan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Rotariërs van Vanderbijlpark ’n driedag-wiskundewerkswinkel met internasionale kundiges – Marian Fletcher (Pretoria) en Swati Dave (Boston, VSA) – aanbied.

Die werkswinkel sal van 8 tot 10 Augustus 2019 plaasvind, en verteenwoordig die heel eerste VEDIC-wiskundewerkswinkel wat deur die Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys aangebied word, moontlik gemaak deur ’n borgskap van die Vanderbijlpark Rotariërs.

Die belangrikheid van ’n stewig wiskundebasis

Volgens dr Magda Kloppers, adjunkdirekteur van die Skool vir Wiskunde, Wetenskap- en Tegnologieonderwys op die kampus in Vanderbijlpark, kan die belangrikheid van ’n goeie grondslag in wiskunde nie oorbeklemtoon word nie.

Sy verduidelik dat wiskunde analitiese en skeppende denke verbeter, terwyl dit terselfdertyd redeneringsvaardighede bevorder, en dus die hoeksteen van moderne probleemoplossing is.

“Vir talle studente is wiskunde vervelig, abstrak en moeilik om te verstaan, maar dit is ’n vak wat ’n onafskeidbare deel van ons alledaagse lewens is,” sê dr Kloppers. Sy voeg by dat die universiteit deur inisiatiewe soos die komende wiskundewerkswinkel daarop fokus om studente te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik.

Dr Kloppers verduidelik dat dit vir onderwyskundiges belangrik is om die volgende geslag van wiskunde-onderwysers te inspireer en toe te rus om van die bladsye van wiskundehandboeke weg te breek en jongmense – veral in die Suid-Afrikaanse konteks – te bemagtig om praktiese probleemoplossers en kritiese denkers te word.

“’n Goeie wiskunde-onderwyser sal nie net hulle studente help om in die klaskamer sukses te behaal nie, maar hulle ook bemagtig om produktiewe lede van ons demokratiese samelewing te word.”

 

 

 

Submitted on Tue, 08/06/2019 - 14:40