Sal jy jou plasings op sosiale media ook op ’n reklamebord uitbasuin?

Moenie enigiets op sosiale media publiseer as jy nie gewillig is om dit op ’n reklamebord langs ’n snelweg te sien nie.

Die doen van die “reklamebordtoets” wanneer jy by sosiale media betrokke is, is goeie raad van Emma Sadleir, ’n voorste kundige oor sosialemediareg en stigter van die Digital Law Company,  wat instellings en groepe oor die risiko’s en regsgevolge van sosiale media adviseer.

“Digitale inhoud is gevaarlike inhoud,” gewaarsku sy tydens ’n webinaar wat die NWU Besigheidskool op 26 November 2020 aangebied het.

“Wanneer iets digitaal is, is dit buite jou beheer – dit versprei baie vinnig en baie ver.” Sy noem dit die tatoeëer-effek – as dit eers daar is, is dit baie moeilik om dit terug te trek of in toom te hou.

Wanneer ander mense jou inligting beheer

Emma wys daarop dat selfs as jy inligting uitwis net nadat jy dit geplaas het, mense moontlik skermskote kon geneem het net voordat jy die uitwisknoppie gedruk het, en dan het jy nie beheer oor wat hulle daarmee doen nie.

“Dit is waarom dit so belangrik is om ’n oomblik na te dink oor wat jy wil sê voordat jy enigiets publiseer,” sê sy.

Sy beveel aan dat jy jouself google om uit te vind watter inligting oor jouself op die internet gevind kan word.

“Onthou niks is ooit regtig gratis nie. Vir groot maatskappye soos Twitter, Facebook en Instagram gaan dit oor geld – hulle is nie liefdadigheidsorganisasies nie. Van hulle kan byvoorbeeld as hulle wil jou profielfoto gebruik, afhangend van die diensvoorwaardes en die hoeveelheid privaatheid wat jy op jou sosialemediaprofiele het. Wanneer jy jouself in hulle hande plaas, is jy baie kwesbaar.”

Emma raai almal aan om na The Social Dilemma  te kyk. Dit is ’n dokumentêre film deur Jeff Orlowski waarin vorige werknemers van groot sosialemediaplatforms praat oor hoe sosiale media die wêreld beïnvloed het.

Jou reg op privaatheid is nie ’n uitgemaakte saak nie

Volgens wet het almal ’n reg op privaatheid. Dit hang egter ook van omstandighede af – as jy byvoorbeeld op ’n verhoog is en ’n aanbieding doen, het jy ’n laer verwagting van privaatheid as die persoon wat in die gehoor sit.

Dieselfde geld vir mense wat prakties gesproke op sosiale media woon en elke paar uur iets plaas, vergeleke met iemand wat amper nooit sosiale platforms gebruik nie, sê Emma.

Sy gee nog ’n voorbeeld van ’n ma wat haar kinders se gesigte bedek wanneer sy hulle foto’s op sosiale media plaas. Daardie kinders het ’n hoër verwagting van privaatheid as kinders wie se ouers net ná hulle geboorte ’n toegewyde Facebook-blad vir hulle geskep het.

“Gebruik jou privaatheidstellings wanneer jy foto’s van jou kinders op sosiale media plaas,” stel sy voor. “Hoe meer jy na jou eie en jou mense se privaatheid omsien, hoe meer privaatheid het julle.”

Nog ’n voorbeeld waar jou reg op privaatheid ingeboet word, is wanneer jy die wet oortree.

“Wanneer jy iets doen of sê wat onwettig is, is jou reg op privaatheid daarmee heen,” sê Emma. Wanneer iemand byvoorbeeld ’n video plaas van ’n persoon wat sy of haar gade in die slaapkamer aanrand, kan daar nie ’n verwagting van privaatheid wees nie.

Moenie jou maatskappy se naam in diskrediet gebring nie

Om jou maatskappy se naam oneer aan te doen deur wat jy op sosiale media plaas, kan jou in die moeilikheid laat beland en selfs veroorsaak dat jy afgedank word.

Dit hoef nie eers iets te wees wat werkverwant is nie. As jy ’n rassistiese of seksistiese grappie aanlyn publiseer – of selfs like of deel – is dit sleg vir jou maatskappy. Die like, deel of herplasing daarvan word direk met jou en die maatskappy vir wie jy werk, geassosieer.

“Dit gaan ook daaroor dat jy nie die hand moet byt wat jou voed nie,” sê Emma. Moenie jou werkgewer slegsê of dinge sê wat nie in sy of haar beste belang is nie.

Wat meer is: dit geld ook vir wanneer jy jou maatskappy indirek in gedrang bring. As jy byvoorbeeld ’n bank op sosiale media aanval, en daardie bank is ’n belangrike kliënt van jou maatskappy, kan jou werkgewer dalk teen jou optree.

Dit is net so belangrik om nie jou beroep se naam sleg te maak nie. Moet byvoorbeeld nooit ’n ander ouditfirma beledig as jy self vir ’n ouditfirma werk nie.

Moenie in die publikasieketting vasgevang word nie

Emma waarsku dat as jy deel is van die publikasieketting, jy ook wetlik aanspreeklik is vir inhoud wat gepubliseer word.

Met ander woorde, moenie ’n plasing deel of like wat onwettig of lasterlik kan wees nie. Selfs al maak jy dit duidelik dat jy dink die plasing is aaklig terwyl jy dit deel, gaan dit nie jou bas red nie.

Deur ’n plasing te like, wys jy dat jy jouself daarmee vereenselwig en dit maak jou vir daardie inhoud verantwoordelik. “As iemand iets lasterliks of onwettigs op jou Facebook-blad plaas, is jy wetlik verplig om dit uit te vee,” sê Emma.

Dit is ook op WhatsApp-groepe van toepassing. “As die groep enigiets lasterliks plaas, moet jy aandui dat jy nie daarmee saamstem nie, of jy moet die groep verlaat.” Sy beveel aan dat daar duidelike inhoudsriglyne vir elke WhatsApp-groep behoort te wees.

Wat duidelik uit Emma se aanbieding na vore kom, is dat sosiale media ’n mynveld kan wees en dat ons almal baie lig moet loop. Die beste ding om te doen om moontlike “landmyne” te vermy, is om die reklamebordtoets te doen voordat jy iets op enige plek op die internet plaas.

....

Emma Sadleir

 

 

Submitted on Mon, 12/07/2020 - 12:27