SADiLaR en NWU stel die Digitale Humaniora Oop Opvoedkundige Hulpbronne se Kampioene-inisiatief bekend

Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLAR) en die UNESCO-leerstoel vir Multimodale Leer en Oop Opvoedkundige Hulpbronne (OOH) aan die Noordwes-Universiteit (NWU) het tans hulle eerste inname by hulle Kampioene-inisiatief van Digitale Humaniora (DH) OOH.

Volgens prof Jako Olivier, NWU UNESCO-leerstoel vir Multimodale Leer en OOH, word die program deur SADiLaR se ESCALATOR Digitale Kampioene-inisiatief aangebied. Hy sê die doel daarvan is om aktivisme vir en navorsing oor die gebruik en/of daarstelling van OOH vir die digitale humaniora by universiteite in Suid-Afrika te stimuleer.

“Ons is baie bly om aan te kondig dat 26 projekte by hierdie program aanvaar is om die totstandkoming en aanpassing van OOH in die digitale humaniora te ondersteun en te befonds. Soos die naam impliseer, sluit OOH enige onderrig-, leer- en navorsingsmateriaal in wat in die openbare domein beskikbaar is en gratis toegang, gebruik en aanpassing, en herverspreiding moontlik maak,” sê Jako.

Hy verduidelik dat hierdie hulpbronne ’n integrale deel in die ontwikkeling van vaardighede en kundigheid in DH in Suid-Afrika vorm, aangesien hierdie belangrike gebied ontwikkel moet word in reaksie op die spesifieke behoeftes van akademici in die geesteswetenskappe in Suid-Afrika.

“DH is ’n relatiewe nuwe navorsingsgebied in Suid-Afrika,” voeg prof Menno van Zaanen, professor in DH by SADiLaR, by. “DH behels die toepassing van rekenaarmatige metodes in die breë gebied van die geesteswetenskappe. Digitale tegnologieë stel navorsers in die geesteswetenskappe en sosiale wetenskappe in staat om groter hoeveelhede data (soos teks) te ontleed. Dit laat hulle toe om navorsingsvrae objektiewer te beantwoord of om selfs heeltemal nuwe navorsingsvrae te beantwoord.”

Die 26 projekte wat vir die inisiatief gekies is, is oor instellings in Suid-Afrika versprei. Hulle het doelwitte wat strek van die gebruik van OOH om ’n meertalige, gedekoloniseerde en interdissiplinêre perspektief in joernalistiekonderrig bekend te stel, tot om inheemse taalrobotika-onderrig in Suid-Afrika te ondersteun, en om DH en komputasionele denke in regsnavorsing te gebruik.

SADiLaR sal in die komende maande die werk wat in die projekte gedoen word op hul verskeie platforms bekendstel.

Benewens befondsingtoekennings vir die projekte, het die program ’n sterk kapasiteitsboufokus. Jako sê die programdeelnemers sal ’n aanlyn kortkursus in OOH volg, wat webinare en werkswinkels insluit en ’n ruimte skep om beste praktyke te deel.

“Die program sal ook ondersteuning vir die kampioene uit die geesteswetenskappe om navorsing oor die proses te doen, aan ’n colloquium oor hulle navorsing deel te neem, en om daaraan te werk om hulle werk te publiseer, insluit. ’n Onontbeerlike uitkoms van die program is om ’n netwerk van DH-navorsers en -praktisyns in Suid-Afrika te bou om hierdie nuwe gebied te ontwikkel.”

Submitted on Tue, 04/05/2022 - 14:16