Saam in die stratosfeer: NWU, NASA en Princeton Universiteit reik na die sterre met die Super Pressure Balloon-projek

Die National Aeronautics and Space Administration (NASA) het op Donderdag 16 April 2023 die Super Pressure Balloon, wat die Superdrukballon-beeldteleskoop (Super Pressure Balloon Imaging Telescope, SuperBIT) vervoer, gelanseer. Die SuperBIT werk in die stratosfeer op ’n hoogte van 40 kilometer bo seevlak.

Die primêre wetenskaplike doel van die SuperBIT is om insig in die verspreiding van swart materie in sterrestelsel-swerms regdeur die grootskaalse struktuur van die heelal te verskaf. Hierdie ballon, wat so groot soos ’n sokkerstadion is, het die hoogs gestabiliseerde en hoëresolusie-SuperBIT in staat gestel om beelding van ’n uitstekende gehalte te verkry terwyl dit 99% van die tyd bokant die aarde se atmosfeer gefunksioneer het.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het in Mei 2023 met ’n samewerking met NASA en Princeton Universiteit begin, en hierdie vennootskap het NWU-navorsers en -studente in staat gestel om toegang tot nuwe data van NASA se Super Pressure Balloon-program te verkry. Hierdie nuwe samewerking is op 20 Desember 2023 uitgebrei toe dit by die Withuis bespreek is op die vergadering van die nasionale ruimteraad (https://www.whitehouse.gov/briefing-room/statements-releases/2023/12/20…), wat deur die visepresident van die Verenigde State, Kamala Harris, gelei is.

“Dit is opwindend dat ons onder die eerste mense op internasionale gebied is wat met SuperBIT-data werk,” sê prof Ilani Loubser, ’n professor in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe by die NWU. Sy voeg by: “As ons ons kan voorstel wat hierdie samewerking vir ons in die toekoms kan beteken, kan ons begin om daaraan te dink om ons eie eksperimente of instrumente op NASA-superdrukballonne te plaas, of om die ballonne vanuit Suid-Afrika te lanseer. Dit open ’n hele klomp nuwe moontlikhede.”

Daarbenewens was Modiri Mokaila die eerste student uit Suid-Afrika om data van NASA se SuperBIT te gebruik vir sy BSc Honneursgraad-projek by die NWU se Sentrum vir Ruimtenavorsing, wat op die Potchefstroomkampus geleë is. Modiri werk doeltreffend saam met prof IIani Loubser en prof Bill Jones van Princeton Universiteit. Hy het intussen sy honneursgraad suksesvol voltooi en gaan met ’n MSc-graad by die NWU voortgaan.

“Dit was ’n eer om deel van hierdie projek te wees, en ’n geleentheid wat ek vir altyd sal koester. Ek voel baie nederig daaroor. Die projek het my aan ruimtenavorsing bekend gestel: die probleme, die stres, die geleenthede, en die hoeveelheid werk wat daarmee saamgaan,” sê hy.

Modiri het bygevoeg dat om met prof Ilani Loubser as sy studieleier te werk, ’n ongelooflike ervaring was, aangesien sy ’n wonderlike gids is wat oor ’n magdom wetenskaplike kennis beskik. Hy sê ook dat prof Bill Jones en dr Kartik Sheth motiverend was en vinnig reageer het op enige vrae wat hy oor die SuperBIT-data gehad het.

Die SuperBIT het ’n veertig dae lange wetenskaplike vlug oor sommige dele van die wêreld – Suid-Afrika ingesluit – op ’n wonderlike wyse voltooi en sy vermoë as ’n instrument van wêreldgehalte gedemonstreer. Die samewerkingsprojek sal met ondersteuning van NASA uitgebrei word om navorsers en studente van ander Suid-Afrikaanse instellings en Afrika-lande in te sluit.

SuperBIT-data oor die beroemde Bullet-galaksieswerm is vir hierdie eerste projek verkry, en die data is gekombineer met waarnemings van die swerm wat met die MEERKAT-radioteleskoop geneem is. Die MEERKAT-teleskoop is in die Noord-Kaap, Suid-Afrika geleë, en die kollektiewe data is gebruik om die eienskappe van sterrestelsels in die Bullet-swerm te identifiseer.

....

Die Suidelike Vierwielsterrestelsel wat met die SuperBIT afgeneem is

.....

Die Sombrerosterrestelsel wat afgeneem is deur die SuperBIT wat op die superdrukballon gevlieg het.

.....

Die baan van die superdrukballon wat vanaf NASA se Colombia wetenskaplike ballongerief in Palestine, Texas, gemoniteer is.

 

Submitted on Thu, 02/01/2024 - 08:49