Rusland se inval in Oekraïne: wat beteken dit vir Suid-Afrikaanse verbruikers?

Rusland se inval van Oekraïne het skokgolwe regoor die wêreld gestuur en beduidende onsekerheid in wêreldmarkte veroorsaak.

Hoewel ons geografies ver van hierdie strydende lande is, beteken die moderne era van globalisering en sterk integrasie van markte deur handel en finansiële vloei dat Suid-Afrikaners moontlik die uitwerking daarvan aan hulle beursies sal voel.  

Die media en nuusagentskappe het sedert die begin van die inval baie gespekuleer om te probeer vasstel watter potensiële uitwerking dit op plaaslike ekonomiese toestande kan hê. Sommige ontleders waarsku dat ’n uitgerekte oorlog brandstofpryse tot naby aan R40/per liter kan opjaag, wat een van die hoogste pryse is wat Suid-Afrikaners tot op hede moes betaal.

Hoewel hierdie skattings dalk ’n bietjie hoog kan wees, hou die voortgesette onrus in Oekraïene/Rusland beduidende oorwegings vir die plaaslike ekonomie in, veral wanneer ’n mens die potensiële duur van die inval in ag neem.  

Onder die noemenswaardigste oorwegings is Suid-Afrika se blootstelling aan wêreldwye oliepryse. Met talle verbruikers wat steeds by die onlangse styging by die petrolpompe probeer aanpas, het die prys van Brent-ruolie sedert die einde van Februarie beduidende skommelings getoon, en van $95 per vat tot ’n hoogtepunt van $128 (’n 34,7%-toename) gestyg, met pryse wat met die tyd van hierdie skrywe (15 Maart) na aan $100 was. Indien die krisis voortduur, kan oliepryse egter die rekordhoogtepunt wat in 2007 ervaar is teen ’n beraamde $140 per vat oorskry.

Aangesien Suid-Afrika ’n netto invoerder van olie is, hou dit die grootste risiko vir plaaslike verbruikers in. Hierdie risiko word deur verskafferskokke aan die wêreldwye stelsel oorgedra, veral omdat Rusland ’n beduidende hoeveelheid (ongeveer 10%) ruolie aan die wêreldwye olievoorraad lewer. As dit voortduur, kan Suid-Afrikaners verwag om in die nabye toekoms rekordpryse vir brandstof te betaal. Die meer onlangse skattings beraam prysverhogings van ’n bykomende R1 tot R2,50 per liter wat petrol betref, terwyl diesel waarskynlik so gou as volgende maand met selfs meer sal styg.

Die potensiële verhoging in die brandstofprys hou ook potensiële negatiewe risiko’s in vir inflasievlakke (wat alreeds naby aan die boonste inflasieteiken van 5,7% is), veral vir voedselpryse. Volgens amptelike verslae word ’n geskatte 80% van Suid-Afrika se graan per pad vervoer.  Dit is dus nie verrassend dat voedselpryse as gevolg van stygende brandstofpryse beduidend kan styg nie, aangesien produsente hierdie stygings oordra aan verbruikers, wat alreeds die druk ervaar.  Hoewel Rusland en Oekraïne nie as groot landbouhandelsvennote beskou word nie, is hulle belangrike bronne van graaninvoere (hierdie twee lande is verantwoordelik vir meer as 25% van die wêreldwye graanuitvoere) vir Suid-Afrika. Hierdie land kan dus ook ’n verhoging in broodpryse ervaar, wat die kwesbaarste verbruikers erg gaan raak.

Met inagneming van bogenoemde drukfaktore, word ’n reaksie van die SARB gretig afgewag. Met die MBK wat die begin van sy normalisering van rentekoerse ’n styging van 25 basispunte in Januarie van hierdie jaar aangekondig het, het volgehoue inflasierisiko’s, aangevuur deur stygings in die olieprys, prysverhogings soos dié van elektrisiteitstariewe tot gevolg gehad, en moontlike hoër looneise kan waarskynlik veroorsaak dat groter rentekoersverhogings by die volgende MBK-vergaderings ingestel word. Dit sou wees ten spyte van die voortgaande ongestadigdheid in die wêreld se kapitaalmarkte, wat ’n klomp onsekerheid veroorsaak ten opsigte van die tydsberekening van hierdie normalisering van die rentekoerse en die verwagte duur daarvan.

Dit hang egter alles van die ongestadigdheid van die rand af. Met beide Oekraïne en Rusland wat ’n groot deel van die geldeenhede van die ontluikende markte uitmaak, kan die konflik beleggers van die plaaslike geldeenheid af laat wegbeweeg. Ten spyte van hierdie bekommernisse, het die rand sedert die einde van Februarie sterk aanpasbaarheid teen die vernaamste geldeenhede (dollar, euro en pond) getoon, en met sluitingstyd van die markte op Dinsdag 15 Maart vanaf R15,35 tot R15,11 teen die dollar en vanaf R17,20 tot R16,53 teen die euro verbeter. Suid-Afrika kan moontlik ook teen die sterker kommoditeitspryse beskerm word, wat dalk vir die lopende rekening voordelig kan wees. Dit kan moontlik die rand se waarde goed ondersteun.

Een ding is egter seker: ’n oorlog sal die vooruitsigte van wêreldwye groei demp en onsekerheid laat toeneem, en gevolglik verskeie van Suid-Afrika se groot handelsvennote, veral in Europa, raak. Dit sal na die plaaslike herstel oorloop, en die broodnodige terugkeer na voorpandemiese vlakke van ekonomiese aktiwiteit vertraag.  Suid-Afrikaanse verbruikers moet hulleself staal vir die jaar wat voorlê – dit kan waarskynlik werklik moeilik raak vir mense wat reeds swaarkry, veral in die lig van die land se voortdurend stygende werkloosheidskoerse op grond van alle standaarde, en armoedevlakke wat al hoe erger raak.  

Submitted on Mon, 03/28/2022 - 13:34