Dit gaan ’n eerste vir Afrika wees: Een innoverende tree deur die Noordwes-Universiteit (NWU) en een yslike tree deur die vasteland. Die NWU se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe is gereed om die navorsingsarea RuimteBiologie@NWU bekend te stel.
Volgens een van die projekleiers, prof Henk Bouwman, gaan hierdie multidissiplinêre navorsingsarea – wat kundigheid van ander NWU-fakulteite soos Ingenieurswese ook insluit – kyk hoe biologie met oorlewing in die ruimte kan help.
“Mense gaan oor ’n paar jaar terug wees op die Maan, maar kolonisering van die Maan en Mars lê nog bietjie verder in die toekoms. Dit is waarom ons navorsing nodig het om met hierdie proses te help. In situ-produksie van vesel, koolhidrate, vette, proteïen, voedingstowwe en suurstof kan die sleutel wees om te bepaal hoe ’n mens vir lang tye onder beknopte, onnatuurlike en uiterste omstandighede kan oorleef. Dit beteken dat organismes teen ’n produktiewe tempo aan die lewe gehou moet word, wat impliseer dat daar funksionele ekostelsels moet wees wat regoliet gebaseer word. Regoliet is ongekonsolideerde, niebiologies verrykte rots en stof.
“Die enigste manier om dit te doen, is om organismes en gemeenskappe onder gesimuleerde (parallelle) toestande op Aarde te toets en dan om die eksperimente in die ruimte (uiteindelik die Maan en Mars) te herhaal. Kennis oor hoe mikroörganismes, plante, diere en ekologiese kombinasies in die ruimte en op die Maan en Mars reageer, is nodig. Afrika het vele strawwe omstandighede wat organismes huisves wat kandidate kan wees vir ’n ruimtevlug en die kolonisering van die Maan en Mars. Ons woestyne, gebiede met swak grond (dikwels regoliet genoem), mynskagte, afgesonderde eilande, akwatiese stelsels en ander ekologieë het organismes wat regoliet in volhoubare en bewerkbare grond kan omskep,” sê prof Bouwman.
Die toename in ruimtevlugte en ruimteverkenning deur nasionale entiteite (soos NASA, die Amerikaanse National Aeronautics and Space Administration, en SANSA, die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimte-agentskap), internasionale entiteite (ESA, die Europese Ruimte-agentskap) en kommersiële entiteite (soos SpaceX en Blue Origin) het die behoefte aan biologiese navorsing laat toeneem, en baanbrekernavorsing deur die NWU het alreeds getoon dat erdwurms by tot ses keer die Aarde se gravitasie normaal kan groei en voortplant. Dit is nou die tyd om te sien hoe hulle onder mikrogravitasietoestande funksioneer.
“Een van die uitdagings waarna ons gaan kyk, is hoe om mikrobes en erdwurms te gebruik om regoliet in grond te omskep sodat plante daarin geplant kan word. Daar is so baie moontlikhede. Ons het die beste ekotoksikoloë in Afrika, en ons het so baie buitengewone navorsers wat stres en die effek van stres op biologiese stelsels kan meet. Ek dink ons is perfek geplaas om sulke navorsing uit te voer. Ons het die kundigheid by die NWU om navorsing te doen om lang ruimtevlugte en die kolonisering van die Maan en Mars in die toekoms te fasiliteer. Dit kan baie maande neem om Mars te bereik, en dit vereis ongeveer 1,4 ton kos per persoon. Ons sal in staat moet wees om ons kos in mikrograviteitomstandighede te kweek,” verduidelik prof Bouwman.
Die Afrikavasteland is die tuiste van sommige van die strafste toestande op die planeet, en die NWU se kundigheid ten opsigte van ekostelsels in hierdie omstandighede is ’n waardevolle hulpbron.
“Daar is ’n geweldige getal plante, diere en mikrobes wat nie net onder hierdie omstandighede kan leef nie, maar kan floreer, en ons moet ons kennis daaroor benut en aanwend wanneer ons hierdie nuwe avontuur vir ons spesie aanpak. Dink net aan die menigte praktiese ontwikkelings wat na die Aarde toe teruggebring kan word en praktiese toepassings vir toestande Afrikaika kan hê.”
Dit sluit in dat eetbare items gekweek kan word in toestande wat vroeër as ongeskik vir daardie doel beskou is.
Die ontsnappingsnelheid moet deur die Aarde se digte atmosfeer dring en die uitwerking van gravitasie is geweldig. Dieselfde kan gesê word van die vernuwende denke wat nodig is om ’n sukses te maak van die volgende groot onderneming van die mens.
“Ons sit aan die onderpunt van Afrika, eintlik ver verwyderd van die groep ruimtenavorsers in Europa en Amerika. Dit beteken ons het studente en navorsers wat anders en meer kreatief kan dink, aangesien hulle nie beperk word deur vasgestelde norms ten opsigte van sulke navorsing nie. Ons is baie meer geneig om wyer te dink as wat ons noordelike kollegas doen.”
Dit is ’n swerftog in die ruimte, ’n reis na die uiteindes.
“Dit is opwindend, dit is gevaarlik, dit is nuut, en dit is uitdagend. Waarom sal ons nie hierdie reis aanpak nie?” vra prof Bouwman met ’n glinstering in sy oog.
Inderdaad, waarom nie? Hou hierdie ruimte dop.