Met hierdie behoefte in gedagte was daar ’n aantal wêreldwye bewegings wat gemik is op die massavervaardiging van ventilators wat maklik is om te gebruik, goedkoop is en op ’n eenvoudige manier werk.
Een so ’n beweging is Makers with Purpose, wat onlangs die #ZAVentilatorChallenge aangebied het.
Die uitdaging is aan alle Suid-Afrikaners gerig om ’n prototipe te ontwerp en te bou (of ’n bestaande ontwerp te optimaliseer) vir ’n ventilator vir noodgebruik in ’n kliniek of veldopset. Romeo Botes, ’n dosent by die Skool vir Rekenaarwetenskap en Inligtingstelsels aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het gehoor gegee aan hierdie oproep en het die derde plek vir sy prototipe, VENT-ZA, verower.
Wil graag ’n verskil maak
Volgens Romeo het die vinnige toename in die getal Covid-19-gevalle hom laat wonder wat hy persoonlik kan doen en het hy na ’n manier begin soek om die pandemie te help beveg. Om ’n ventilator te ontwerp wat pasiënte in ernstige situasies kon help, was iets waaraan hy kon aandag gee.
Navorsing op die internet het hom na ’n aanlyn gemeenskap gelei waar mense van regoor die wêreld ventilators ontwerp en gebou het, maar hy het besef dat die meeste komponente wat gebruik kon word nie prakties was nie, of nie maklik verkry kon word nie.
Met hierdie beperkings in gedagte het Romeo begin om met behulp van sy 3D-drukker ’n ventilator te bou. Dit was in hierdie tyd dat ’n goeie vriend, Tom van den Bon van BinarySpace, hom van die #ZAVentilatorChallenge vertel het, en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.
Sy prototipe is op die outomatisering van die konvensionele balklepmasker (BVM) of Ambu Bag, gebaseer, wat ’n konvensionele respiratortoestel is wat met die hand saamgepers word en wat in ambulanse en hospitale aangetref word.
Die BVM is met behulp van meganika geoutomatiseer om dit saam te pers om lugvloei te skep, soos wat ’n persoon dit met die hand sou doen. Benewens die vervaardiging van die ventilator se struktuur met behulp van ’n 3D-drukker, het Romeo ook servomotors gebruik, wat algemeen beskikbaar is.
Veranderlikes soos getyvolume, asemhalingstempo, I:E-ratio (inspiratoriese tyd:ekspiratoriese tyd) en asemophoutyd kan met behulp van ’n klein vertoonvenstertjie en sleutelbordjie gestel word.
Meer oor die #ZAVentilatorChallenge
Die uitdaging is deur Makers with Purpose saam met die borge DIYElectronics en Maxwell & Spark georganiseer, met ondersteuning van Denel en die Universiteit of KwaZulu-Natal (UKZN).
Die wenner van die kompetisie het ’n kontantprys asook potensiële befondsing vir ’n prototipe ontvang, saam met die geleentheid om hulle ontwerp vir evaluering en moontlike produksie aan die span by Denel en UKZN voor te lê.
Romeo Botes met sy VENT-ZA-prototipe besig
Die voltooide prototipe.