Bosindringing is ’n wêreldwye uitdaging, maar deur die multimiljoenrand-RIBS-projek word hierdie groot bydraer tot gronddegradering met hernude ywer aangepak.
RIBS is ’n akroniem wat vir “Rangeland Improvement through Bush Control and Sustainable Intensification to mitigate Climate Change and improve Livelihoods and Food Security in Southern Africa” staan.
Die projek word deur die Federale Ministerie vir Opvoeding en Navorsing in Duitsland befonds, en deur die Suider-Afrikaanse Wetenskapdienssentrum vir Klimaatsverandering en Aanpassingsgrondbestuur se program (Southern African Science Service Centre for Climate Change and Adaptive Land Management, SASSCAL 2.0) bedryf.
Dit is ’n gesamentlike poging tussen die Noordwes-Universiteit (NWU), die Universiteit van Namibië (UNAM), die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (NUST), die Botswana Universiteit van Landbou en Natuurlike Hulpbronne (BUAN) en die Brandenburg Universiteit van Tegnologie in Cottbus, Duitsland.
Bosindringing verwys na ’n toename in die digtheid van inheemse houtspesies (bome en struike), wat tot die verlaging van die produksie van weiding op weivelde lei. RIBS fokus op die aanwending van verskeie metodes vir die beheer van inheemse houtspesies wat indringing veroorsaak.
Die NWU se prof Klaus Kellner van die Eenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur (UESM) by die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe is die hoofondersoeker vir dele van die RIBS-projek in Suid-Afrika en Namibië. Hy is verantwoordelik vir 18 terreine en 189 landerye in Namibië en ses terreine met 126 landerye in Suid-Afrika.
Bosse druk ander spesies uit
“Gronddegradering vind plaas wanneer die produksievermoë van die grond as gevolg van die agteruitgang van grond- en plantparameters verlore raak. Namate die inheemse houtagtige struike en bome digter word en bosindringing veroorsaak, ding hulle mee om grondvog met bossieagtige plante, veral gras vir graseters,” sê prof Kellner.
Daar bestaan verskeie tegnologieë om die houtagtige spesies te beheer wat bosindringing veroorsaak. “Die resultate van die RIBS-projek sal nuttig wees om produsente oor die doeltreffendheid van bosbeheer en die kostedoeltreffendheid van verskillende tegnieke raad te gee. RIBS sluit ’n modelleringsdoelwit in, aangesien modellering nuttig kan wees om die voordele van bosindringingsbeheer vir die beheer van die verbetering van dravermoë, koolstofsekwestrasie en emissievermindering te demonstreer.”
Verwagte uitsette is die verbeterde dravermoë van weivelde, verhoogde biodiversiteit, die herstel van ondergrondse waterhulpbronne, en die verhoogde aanpasbaarheid van gemeenskappe met betrekking tot die effek van klimaatsverandering, wat weer voedselsekerheid en mense se lewensbestaan verbeter.
Volgens prof Kellner sal ander voordele van RIBS aanbevelings vir die rehabilitasie van weivelde, nasorg en die daarstelling van voerbanke, verhoogde produktiwiteit van vee en verbeterde bosgebaseerde voerformulerings insluit. Die projek sal ook vir die gemodelleerde impak van die rehabilitasie van weivelde op die produktiwiteit van vee, die skep van werk en entrepreneursgeleenthede, en laastens die opleiding van voorgraadse en nagraadse studente voorsiening maak.
RIBS sal oor ’n driejaartydperk tot April 2026 in Suid-Afrika, Namibië en Botswana uitgevoer word.
Prof Klaus Kellner