RNE moet belangrike groei-vriendelike hervormings versnel om BBP-syfers te verbeter

 “Ná die hersiene nul-groeivlak (0,0%) in die eerste kwartaal van 2024 is die beter nuus dat die reële bruto binnelandse produk (BBP) in Suid-Afrika in die tweede kwartaal van 2024 met ’n beskeie 0,4% gegroei het.”

In sy kommentaar oor die BBP-syfers vir die tweede kwartaal wat Statistiek SA op 3 September vrygestel het, sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die NWU Besigheidskool, dit kan ’n draaipunt in Suid-Afrika se sakesiklus verteenwoordig, aangesien die groeiprestasie duidelik vir té lank té laag was.

 “Die swak groeiprestasie bevestig die topprioriteit wat nou deur die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) aan inklusiewe arbeidsryke groei gegee word. Dit bevestig ook die uitgebreide skade aan Suid-Afrika se ekonomiese groei wat veral Eskom se beurtkrag in die verlede ten opsigte van wydverspreide ontwrigting, hoë koste en verlammende ekonomiese onsekerheid veroorsaak het.”

Prof Parsons sê dat, aangesien beurtkrag die afgelope ruk verminder het, sake- en verbruikersvertroue tot beter vlakke herstel het.

Die BBP-groeisyfers vir die tweede kwartaal van 2024 toon dat hernude energiesekerheid sedert Maart 2024 die land se groeiprestasie gehelp het om ’n belangrike drempel oor te steek.

 “Dit lyk asof groei in kwartaal 2 van 2024 in ’n groot mate van baie sterker huishoudelike besteding afhanklik was. Die ekonomie is egter nie op spoedbeheer nie. Beide bruto vastekapitaalvorming (BVKV) en uitvoere bly swak skakels in die tweede kwartaal van 2024 se groeiscenario.”

Prof Parsons verduidelik dat veral totale BVKV ’n belangrike aandrywer van toekomstige ekonomiese groei is. Hy sê oorgerustheid moet dus vermy word, aangesien belangrike risiko’s vir die groeivooruitsig steeds daar is, en daar is steeds gedugte sosio-ekonomiese uitdagings wat hanteer moet word.

 “Belangrike groei-vriendelike hervormings, beleide en projekte moet nog steeds deur die RNE, in samewerking met die privaat sektor, versnel word om te verseker dat die ekonomie op ’n baie hoër en volhoubare groeibaan geplaas word. Indien Suid-Afrika van nou af dinge reg doen, word dit moontlik om Suid-Afrika se reële BBP-groei vir 2024 breedweg op 1% te visualiseer, om in 2025 tot ongeveer 2% te verbeter, en dalk teen 2026 selfs 3% te bereik,” sluit hy af.

Submitted on Wed, 09/04/2024 - 10:56