RNE Begroting moet maatreëls ondersteun wat groei bevorder

Die groeisyfers van die bruto binnelandse produk vir die vierde kwartaal wat op 4 Maart bekend gemaak is, is positief, maar die matige herstel van die BBP in Kwartaal 4 van 2024 bevestig weer eens dat die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) reg was om baie hoër inklusiewe groei en groter werkskepping as Suid-Afrika se vernaamste oorkoepelende ekonomiese prioriteite te stel.  

In sy kommentaar op die groeisyfers sê prof Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit (NWU) se Besigheidskool, dat die jongste data weer eens beklemtoon dat groei in Suid-Afrika vir te lank te laag was, en dat die situasie reggestel moet word deur die regte ekonomiese omgewing vir beleggings en groei te handhaaf.  

“Met die syfers wat pas voor die voorlegging van die uitgestelde Begroting vrygestel is, moet die matige BBP-groei van 0,6% vir Kwartaal 4 van 2024 dus ook die moeilike keuses rig wat die RNE in die gesig staar wanneer die gewysigde Begroting gefinaliseer word. Die RNE se Mediumtermyn-Ontwikkelingstrategie het self ’n oorkoepelende groeimikpunt van 3% daargestel, wat ongeveer die minimum is wat nodig is vir Suid-Afrika om te begin om vordering met sy werkloosheidsvlakke te maak en te help om armoede te verlig.”

Prof Parsons sê die RNE Begroting van 12 Maart moet dus ’n beleidsmengsel toon wat fiskale konsolidering noukeurig bereken, ’n negatiewe belasting-en-besteding- fiskale siklus vermy, en maatreëls ondersteun wat groei bevorder.  

“Versnelde groeivriendelike strukturele hervormings, veral in infrastruktuurontwikkeling, moet dringend geïmplementeer word om Suid-Afrika se mediumtermyngroei teen, sê 2027, tot 3% te laat groei.Volgens prof Parsons bly vastekapitaalvorming ’n swak skakel in Suid-Afrika se stadige en ongelyke ekonomiese herstel, en dit is steeds slegs 15% van die BBP in plaas van die NOP se teiken van 25% tot 30%.  

“Huishoudelike besteding het tot dusver die grootste las in Suid-Afrika se ekonomiese opswaai gedra. Hoër volhoubare groei help ook om ekonomiese buffers te skep en veerkragtigheid is nodig om enige eksterne skokke, wat deur wêreldwye onsekerheid veroorsaak word, te versag,” het hy afgesluit.

 

 

Submitted on Wed, 03/05/2025 - 09:11