River FM mik na die groot prys

River FM, ’n radiostasie van die Noordwes-Universiteit se Vanderbijlparkkampus, is uitgenooi om deel te neem aan ’n kompetisie wat aan die plaaslike gemeenskapsradiostasies die geleentheid gee om vir iemand se regte op te kom.

Die geleentheid is deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), saam met die streekskantoor vir Suider-Afrika, kantoor van die VN se hoëkommissaris vir Menseregte (OHCHR), aangebied nadat die kompetisie op Maandag16 Januarie ’n aanvang geneem het.

Gemeenskapsradio speel 'n belangrike rol

Volgens die kommissie lewer plaaslike gemeenskapsradiostasies ’n positiewe bydrae tot die lewens van gewone mense omdat dit binne gemeenskappe geleë is, en die kommissie wil erkenning gee aan die radiostasies se positiewe bydrae op gemeenskapsvlak, en aan hulle die geleentheid bied om hulle impak te versterk.

Met hierdie kompetisie wat tot 17 Februarie gaan loop, word radiostasies uitgenooi om:

•         vir iemand se regte op te kom.

•         vir ’n kompetisie in te skryf en wonderlike pryse te wen!

•         ’n positiewe verskil in die lewens van gemeenskappe te maak.

•         mense te help om hulle regte vir hulle te laat werk.

Radiostasies wat vir die kompetisie inskryf, moet met nuwe, innoverende benaderings vorendag kom om bewustheid vir menseregte verkry in die gemeenskappe na wie hulle uitsaai.

’n Studie wat in 2014 onder studente gedoen is, het gevind dat 70% van hulle die internet verskeie keer per week benut en 73% ten minste twee dae per week na die kampusradio luister. Slegs 8% van die studente het egter gesê dat die kampusradioprogramme ’n impak op kwessies soos menseregte en MIV/Vigs maak en iets daaraan probeer doen.

River FM se stasiebestuurder, Itumeleng Bahetane, sê dat hulle baie opgewonde is om aan hierdie edel inisiatief deel te neem. Hy sê dat dit nie net om die groot prysgeld gaan nie (dis as hulle die kompetisie wen), maar omdat mense se lewens uiteindelik positief geraak sal word.

Wat nog opwindender oor hierdie kompetisie is, is dat ons as stasie bewysgebaseerde inhoud sal produseer wat op ’n betekenisvolle manier met ons uiteenlopende studentegemeenskapgehoor sal praat en hulle uiteindelik kan help om te verstaan wat hulle regte is en hoe hulle hulle daarvoor kan beywer, sê hy.

*Die SAMRK is ’n staatsinstelling wat ingevolge hoofstuk 9 van die Grondwet van Suid-Afrika gestig is om grondwetlike demokrasie te ondersteun, en het ingevolge artikel 184 (1) (a-c) van die Grondwet ’n mandaat om respek vir menseregte te bevorder en die handhawing van menseregte in Suid-Afrika te monitor en die stand daarvan te bepaal.

Submitted on Fri, 01/27/2017 - 15:04